Shoprite betaal skoolfonds
THABAZIMBI – ‘n Graad 5-leerder van Laerskool Thabazimbi, Lesne Pauw, was die wenner van die Shoprite Class of 2009-kompetisie, ter waarde van R4 500.
Die kompetisie, waar elke Shoprite-winkel in Suid-Afrika die skoolfonds, tot ‘n maksimum van R5 000, van een leerder in sy omgewing betaal, word kort na die aanvang van die skooljaar geloods. Meer as ‘n miljoen rand word op hierdie manier aan skoolfonds bestee, en deur Shoprite beskou as ‘n poging om terug te ploeg in die gemeenskappe wat dit ondersteun.
Inskrywingsvorms was by Shoprite beskikbaar en sal moontlik volgende jaar by die skole versprei word. Die inskrywingsvorm moes vergesel word van ‘n Shoprite-betaalstrokie en die inskrywende leerder moes in ‘n kort opstel vertel wat hy of sy na matriek wil doen. Vanjaar se wenner, Lesne Pauw, het gesê sy wil ‘n Springbok-verspringatleet en/of ‘n wetenskaplike word.
Vanjaar was die tweede jaar wat die kompetisie in Thabazimbi aangebied is en ongeveer 70 inskrywings is ontvang. Die kompetisie geld slegs vir leerders in staatskole.