General

Ent vee nou in teen slenkdalkoors

‘n Versoek is vanaf die Staatsveearts ontvang om alle vee te spuit teen Slenkdalkoors.  Die eerste gevalle het reeds in KZN uitgebreek.Slenkdalkoors is ’n erge insekgedraagde virussiekte wat hoefdiere soos skape, bokke en beeste aantas. Dit hou ook ’n ernstige gesondheidsgevaar vir die mens in.
Diere word aanvanklik besmet as hulle deur die muskiete wat die virus dra, gebyt word. Hierna word die diere direk besmet omdat hulle blootgestel word aan geaborteerde fetusse en besmette materiaal.
Lammers en bokke onder die ouderdom van twee weke is baie vatbaar. Hulle word baie gou siek, gewoonlik binne 24 tot 72 uur na besmetting.  ’n Hoë koors  word ontwikkel, hulle is lusteloos en verloor hulle eetlus. Tot 95% van aangetaste lammers kan vrek.
Skape is lusteloos, met ’n hoë koors, traag om te loop, eet nie en gooi op.  Dragtige ooie aborteer en die fetus ontbind gou.  Vrektes onder skape is  so hoog as tussen 15 en 30% en tussen 40 en 60% van dragtige ooie kan aborteer.
By kalwers kom ligte kliniese tekens en tien tot 15% vrektes voor. By volwasse beeste is die tien tot 40% van aborsies soms die enigste siektetekens.
Slenkdalkoors kom gewoonlik in die laat somer voor as dit warm en die lugvogtigheid hoog is. Diere wat in die somer in laagliggende dele by panne, vleie en damme wei, loop die grootste risiko om die siekte te kry.
 In Suid-Afrika raak mense gewoonlik besmet deur regstreekse aanraking met die Slenkdalkoorsvirus indien hulle nadoodse ondersoeke op besmetlike karkasse of geaborteerde fetusse doen of in laboratoriums met die virus werk. Dit is veral veeartse, veeboere en plaaswerkers wat die gevaar staan om besmet te raak.
Wat voorkoming en beheer betref, is die volgende belangrik: Dit is nie prakties moontlik om die muskiete wat die Slenkdalkoorsvirus dra, uit te roei of te beheer nie. Daarom is die immunisering van beeste, bokke en skape, die enigste praktiese en werkbare beheermaatreël. Die periodes tussen die siekte kan jare duur. Daarom ent die meeste vee-eienaars nie hulle diere nie en is die oorgrote meerderheid vee in Suid-Afrika vatbaar en dit versprei baie vinnig van plaas tot plaas.
Die lewende entstof wat deur Onderstepoort Biologiese Produkte gemaak word, kan in alle nie-dragtige beeste, skape en bokke gebruik word en gee goeie beskerming aan vee.
Dragtige vee kan met die dooie entstof ingeënt word. Dit is duur en tydrowend om te produseer en het ’n raklewe van een jaar.
Die dra van beskermende klere wanneer nadoodse ondersoeke gedoen word, is uiters belangrik.
Melk moet gepasteuriseer word vir menslike gebruik.
Die toepassing van goeie insektebeheer, kan moontlik bydrae tot voorkoming van die siekte.
Verskuif diere van laagliggende na hoërliggende dele en voorkom dat dit naby vleie, damme en riviere wei waar daar baie muskiete is.