Eerste sooi gespit vir Immergroen
THABAZIMBI – Die sooispitseremonie, om die aanvang van die oprigting van Huis Immergroen amptelik aan te kondig, is gedoen op Dinsdag 24 Februarie by Bosveld-oord. Marie Steenekamp, dinamiese lid van die projekspan, het die eerste sooi gespit.
Bouwerk sal eersdaags begin, sê jong Tjaart Coetzee, lid van die projekspan verantwoordelik vir die fisiese grondverskuiwing en bouwerk aan Huis Immergroen. Die presiese datum kan egter nie gegee word nie aangesien hulle afhanklik is van vrywillige kontrakteurs wat masjienerie beskikbaar stel sonder vergoeding.
Die inisiatief vir Huis Immergroen, ‘n semi-selfversorgende eenheid, is geneem deur die Bejaardesorg Trust, deur wie Bosveld-oord en Tambotie Versorgingseenheid bestuur word. Dit is te danke aan die deursettingsvermoë en dryfkrag van die Immergroen bouprojekspan wat hierdie eerste stap geneem kan word in die oprigting van Huis Immergroen.
Volgens ds Albert Boshoff, voorsitter van die Bejaardesorg Trust, was dit die geloof in die Skepper en ondersteuning van die gemeenskap wat hierdie projek sover deurgesien het.
Hy het by die seremonie vertel van die geskiedenis van Thabazimbi-dorp se ontwikkelings vir inwonende bejaardes, en hoe dit die behoefte aan ‘n derde eenheid, Huis Immergroen, openbaar het.
Bosveld-oord vir selfversorgende bejaardes is geopen in 1981 en was onder munisipale beheer, maar in 1993 oorhandig aan die Bejaardesorg Trust, wat hoofsaaklik saamgestel is uit verteenwoordigers van die vier plaaslike gereformeerde kerke. In November 2006 is Tambotie Versorgingseenheid geopen nadat die behoefte geïdentifiseer is vir ‘n instansie wat verswakte bejaardes versorg.
Intussen het die nood geblyk vir bejaardes wat nie meer heeltemal selfversorgend is nie, maar ook nie verswak is nie. Dit is hoe die idee aan Huis Immergroen ontstaan het. Personeel by Immergroen sal help met medikasieverskaffing, etes en wasgoed, bietjie soos ‘n koshuis-opset, verduidelik ds Boshoff, maar andersins geniet inwoners nog goeie gesondheid.
Altesaam R4m, en moontlik meer met eskalasiekoste, word benodig vir die oprigting van Huis Immergroen se 12 eenhede en die fondse en bydraes wat reeds ontvang is, maak dit moontlik om die oprigting tot op vloervlak te voltooi.
Marie Steenekamp is optimisties dat, met bydraes wat belowe is en projekte wat in die pyplyn is, die res van die fondse weldra ingesamel sal word.
Een van hierdie projekte was ‘n pop wat gemaak is deur Sannie Fouché van Huis Herfsblaar in Pretoria en deur middel van ‘n lootjietrekking R500 ingesamel het vir die Immergroen-projek. Die trekking is gehou tydens die sooispitseremonie en is deur Tienie Welgemoed gewen. Ook die skopboks-toernooi, wat in Februarie in Thabazimbi gehou is, maak ‘n bydrae van R3 000 vir die Immergroen- projek. Die Jabulani Hengelkompetisie wat twee maal per jaar aangebied word vir fondsinsameling word op 4 April op die plaas Diepwater aangebied.