“Die polisie het my lewe gered”

THABAZIMBI – ‘n Deeltydse boer wat anoniem wil bly het aan die Kwêvoël vertel hoe die Thabazimbiese polisie met ‘n “taakmag”, insluitend die stasiebevelvoerder, op sy plaas teenwoordig was om te keer dat hy beseer word in ‘n beplande rooftog.
Volgens inligting wat die polisie ontvang het was rowers van plan om op Vrydag 13 Februarie die boer aan te hou, sy kluis se sleutels in die hande te kry, hom te beroof en daarna te skiet. Die bewoë en dankbare boer het aan die Kwêvoël vertel dat as die polisie nie so daadwerklik opgetree het nie, hy nie sou gelewe het om die storie te vertel nie.
Die rowers het kennis gehad van wat die boer se bewegings sou wees op die dag van die beplande inbraak. Hy het gedurende die dag Thabazimbi toe gegaan vir besigheid, en toe hy sou terugkeer plaas toe is hierdie informasie aan die rowers gekommunikeer.
Intussen het die polisie reageer op inligting van hul informant en volgens die boer, ‘n “taakmag ontplooi”. Die boer sou oorval word op pad terug na die plaas toe, maar het heelwat later opgedaag as verwag aangesien hy eers by ‘n ander boer aangegaan.
Aangesien die polisie nie geweet het wie die eienaar van die plaas is nie, kon hy nie gewaarsku word teen die beplande roof nie.
Volgens die boer het die stasiebevelvoerder, supt Mantjane en twee luitenante, geklee in swaar koeëlvaste baadjies, die volle 2km van sy hek tot by sy huis gehardloop om hom te waarsku teen die beplande inbraak.
Hy is deur die polisie aanbeveel om voort te gaan met sy gewone roetine, terwyl die polisie ‘n lae profiel gehandhaaf het. Toe hy by sy huis opdaag is hy deur sy werkers meegedeel dat daar polisiemanne op die plaas is en dat al hul selfone tydelik gekonfiskeer is. Twee polisiemanne is by die boer gelos vir beskerming.
Toe die diewe teen sowat 22:00 die aand nie toegeslaan het nie, het die polisie besluit om voorkomend op te tree en die verdagtes gearresteer op die Thabazimbi – Northam Platinum-pad in hul ontsnappingsvoertuig.
Vier verdagtes is gearresteer waarvan twee nog in aanhouding is. Hulle sal verskyn op aanklagte van besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen en poging tot moord.