General

Oud inwoner oorlede

THABAZIMBI – ‘n Wel bekende oud inwoner van Thabazimbi, Ras Erasmus, is op 29 Januarie 2009 oorlede.
Jacobus Lourens Rasmus Erasmus is gebore op 26 November 1937. Hy het grootgeword op die plaas Buffelshoek naby Zimthabi vakansie oord. Sy Laerskool asook Hoërskool loopbaan is in Thabazimbi voltooi waarna hy sy vakleerlingskap by Yskor ysterertsmyn deurloop het. So het hy dan ook menige staaltjies te vertel gehad oor die “moeilike” ambagsmanne en voormanne soos Tiny Combrink en Oup van Rensburg, wat hy in sy tyd beleef het.
In 1961 trou hy met Sophia Potgieter van Pretoria afkomstig. Uit die huwelik word een dogter en twee seuns gebore wat ook hul skoolloopbane in Thabazimbi voltooi het.
Ou “Dik Ras” soos hy ook alom bekend was, het tot op die ouderdom van 37 jaar rugby gespeel waarin hy uitgeblink het en die Waterberg sub-unie sowel as Verre-Noord verteenwoordig het. Na sy uittrede as rugbyspeler, kwalifiseer hy as skeidsregter en rig die Thabazimbi dorpspan af en raak betrokke by die boksafrigting van die Thabazimbi Boksklub saam met ou ysters soos Ben Groenewaldt en Gert Versveldt.
Ou Dik Ras het in 1994 op die ouderdom van 55 jaar op verpligte vroeë pensioen afgegaan waar hy die pos as Elektriese Voorman jare lank beklee het.
Hy het in 1997 ‘n groot rugoperasie ondergaan waarna daar diabetes by hom gediagnoseer is. In 2006 word sy een been tot onder die knie geamputeer en op doktersaanbeveling verhuis hy en Sophia na Pretoria om nader aan die groot hospitale en spesialiste te wees.
In November 2008, na ‘n heupbreuk word hy gehospitaliseer en ondergaan hy ‘n heupvervangingsoperasie, maar as gevolg van die diabetes begin sy organe ingee en is hy op 29 Januarie 2009 op die ouderdom van 71 jaar oorlede.
Die begrafnisdiens was op 5 Februarie 2009 vanuit die Hervormde Kerk Vliegepoort deur ds Kalfie Loots gelei.
Hy laat sy vrou Sophia, 3 kinders en 5 kleinkinders na.