Almal welkom om deel te wees van “LED”
THABAZIMBI – Die Thabazimbi Munisipaliteit het Dinsdag gasheer gespeel vir die Plaaslike Ekonomiese Ontwikkelings (LED – Local Economical Development) simposium wat by Rra Ditau aangebied is. In sy verwelkomingsrede het die Burgemeester van Thabazimbi, Raadslid Lucas Matlau daarop gewys dat almal welkom is om deel uit te maak van LED.
Hy het verteenwoordigers van die gemeenskap wat aan die simposium deelgeneem het daarop gewys dat hierdie byeenkoms gesien moet word in die lig van die ekonomiese resessie wat wêreldwyd heers. ‘n Resessie wat nie te wyte is aan natuurrampe nie maar aan menslike faktore. Die beste manier om dit te oorkom is ‘n geleidelike herstel waar klimaatsveranderings sodanig hanteer word dat dit nie ‘n nadelige nalatenskap sal hê nie.
Aspekte soos mynbou, toerisme, landbou en verstedeliking het ‘n groot impak op die omgewing en natuurlike hulpbronne indien dit nie reg bestuur word nie.
Volgens Matlau moet die ekonomiese ontwikkeling betrek word by die geïntegreerde ontwikkelingsplan om werk te skep en armoede te verlig. Die plaaslike ekonomiese ontwikkeling betrek plaaslike, nasionale en internasionale verbintenisse en die rol van die munisipaliteit is om te sorg dat die infrastruktuur geskep word om hierdie verbintenisse tot die ekonomiese voordeel van die gemeenskap in stand te hou.
Toerisme is een van die vinnigste groeiende bedrywe in die omgewing en daar moet ook gelet word op die uitbouing van plaaslike toerisme aantrekkings. Kleiner firmas moet betrek word, al beskik hulle nie noodwendig oor die nodige ondervinding nie. Hierdie is die enigste manier om ondervinding op te doen. Hulle moet groei en vaardighede ontwikkel. Daarby gesê moet die groter firmas kontak met die munisipaliteit behou want daar is steeds ‘n groot vraag na dienste in die bedryf.
Hy het ten slotte daarop gewys dat die munisipaliteit nie daar is om geld links en regs uit te deel nie maar om mense te betrek sodat hulle finansieel onafhanklik kan wees.