Besige program vir gholfers
Die Skoonveld Mol
THABAZIMBI – Die gholfbaan was goed bedrywig die afgelope ruk en goeie reëns wakker goeie gholf aan, berig die Skoonveld Mol.
Op Saterdag, 7 Februarie 2009 het Bernie Gous die Slagspel Kompetisie met ‘n telling van 70 houe gewen. Tweede was Billy Pring op 71, gevolg deur Alta Venter met 73 en Willem du Plessis met 74. Al die borge word vir hulle bydrae bedank.
Die komende Saterdag, 14 Februarie, vind die “Scratch Stableford” plaas. Elke speler se punte word individueel bereken. Elkeen speel van ‘n 0 voorgee en na afloop van die 18 putjies word die elke speler se amptelike voorgee by die punte getel om die totaal vir die dag te kry.
Alle spelers word versoek om vir hierdie Valentynsdag Kompetisie iets roois aan te trek, selfs “’n rooi daisy op jou blou bul gholfhemp is … goed so” sê die Skoonveld Mol.
Die valmerke op die baan is ‘n probleem en spelers word versoek om hul valmerke reg te maak. Diegene wat joggies neem word gevra om “pitch repair markers” by die klub te neem sodat die joggie ook kan help herstel aan die valmerke.
Diegene wat in aanmerking wil kom vir die Mans Liga-span moet hulle name op die lys plaas. Dis belangrik dat hierdie kandidate regdeur die jaar beskikbaar is vir die liga, sodat daar nie op Nr 99 rondgeskarrel word om ‘n span bymekaar te maak nie.
Gholflesse word nog by die klub aangebied en die nuwe dryfbaan sal moontlik vanaf 1 Maart 2009 in gebruik geneem word.
Spanne wat wil deelneem aan die Interaksie moet so gou as moontlik inskryf. Spanne bestaan uit 4 spelers en 2 reserwes en slegs die ingeskrewe spelers mag deur die jaar vir die betrokke span speel. Die koste is R200 per span.
Die Mol hoop almal speel lekker gholf en herinner spelers dat slegte dag op die gholfbaan nog steeds beter is as ‘n goeie dag op kantoor.