General

TLU bied jaarlikse mediatoer aan

MARKEN – Die TLU SA Noord bied ‘n mediatoer vir plaaslike en nasionale joernaliste aan op Donderdag 19 en Vrydag 20 Maart na Marken. Die Koedoesrand Distrik Landbou-unie bied die toer aan.
Voorsitter van TLU SA Noord, Jan Viljoen, het gesê dat die jaarlikse mediatoer een die hoogtepunte op die TLU SA Noord se kalender is.
Distrikkantore ding jaarlikse mee om joernaliste te ontvang, aangesien die toer geleentheid bied aan die betrokke distrikkantoor om hul boere en hul bedrywighede aan joernaliste bekend te stel. Die toer is dus ‘n besonderse bemarkingsgeleentheid wat in ‘n vurige kompetisie tussen distrikkantore ontwikkel het!
Viljoen het ook gesê die mediatoer bied ook aan joernaliste die kans om leierboere van die gebied te ontmoet en eerstehands kennis op te doen van lede op grondvlak. Soos in die verlede sal waardevolle inligting aan joernaliste tydens die toer beskikbaar gestel word.
Donderdag besoek die boere La Bos, CF Ackermann en Ehlathini. In die oggend word ontbyt geniet by ‘Die Windpomp’ Marken Boeresaal waarna na La Bos vertrek word. La Bos is die sentrum in Marken waar inwoners en besoekers ‘n verskeidenheid van dienste, soos vulstasie en kiosk, ATM en R5-winkel, sal aantref. Die Bosveld Vleismark, waar goeie gehalte vleis aangetref word, sal ook besoek word. Onderwerpe soos sekuriteit, afleweringskostes en -betroubaarheid en aankope sal hier bespreek word.
Die tweede besoekpunt is die plaas van mnr CF Ackermann waar kwessies soos voer (natuurlike weiding en aanvullings), reiskostes, veilings, begrafnisbeeste en veeartseny-kostes bespreek sal word.
Hoewel die omgewing nie meer fokus op tradisionele boerderybedrywighede nie, bly beeste deel van die gemeenskap. Die transformasie in die tradisionele boerdery word onder die loep geneem asook die aard van die bedryf in Marken.
Die derde besoekpunt Donderdag is Ehlathini (Kuvima Safaris & Bushman Village).
Die grootste aantal lede van Marken se Boerevereniging is naweek- en wildsboere. Ehlathini is ‘n 5-ster lodge in Marken, wat hulle bedrywighede op beide die groeiende jagbedryf, asook op toerisme, fokus. Punte van bespreking hier sal wees die buitelanders en hul kultuur, toeriste en hul versoeke, vervoer van gaste, protokol, vuurwapens, sekuriteit en die infrastruktuur op die perseel. Die toergroep slaap oor en nuttig aandete by Ehlathini.
Op die tweede dag word die Legola View Eco-Lifestyle Estate op die plase Diepspruit, Rietfontein en Groenvlei besoek. Die omgewing leen hom tot ‘n eko-lewenstyl wat veral stadsjapies gereeld opsoek. Hier sal kwessies soos omgewing-impakstudies, uitlegplan, watervoorsiening, riolering, paaie, elektrisiteit, vullisverwydering en sekuriteit bespreek word.
Die toergroep verdaag om 12:30. Besprekings kan reeds nou gedoen word deur Wilma te skakel by 015 297 3749.