SA Paragliding Nasionale Kompetisie in Thabazimbi
THABAZIMBI – Die blou lug van Thabazimbi gaan binnekort gevul word deur ‘n magdom kleure van paragliders.
Die SA Paragliding Nasionale Kompetisie gaan vanaf 16 – 21 Maart 2009 in Thabazimbi aangebied word. Sowat 70 of meer paragliders van Suid-Afrika en ‘n klompie Internasionale vlieëniers word verwag om deel te neem aan die kompetisie en streng veiligheidsmaatreëls sal aan die orde van die dag wees. Die kompetisie duur vir ‘n week en elke dag word nuwe roetes met behulp van GPS koördinate aangepak.
Die sport het pos gevat in Suid-Afrika in die vroeë 1980’s en het sedertdien baie ontwikkel. Die eertydse skerms wat soos valskerms met groot lug selle gelyk het is herontwerp om meer vaartbelyn te wees met beter afstand tot hoogte verbruik. In Desember 2008 het die Suid-Afrikaanse paraglider, Nevil Hulett, die wêreld afstand rekord te Coperton Swaziland gebreek. Die nuwe paragliding afstand rekord is nou 501km, hou in gedagte dat daar geen motor op die paraglider is nie en dat die afstande met lugstrome en wind gevlieg word. Paragliders sweef deur die wind soos voëls en land sonder enige impak op die omgewing. Thabazimbi verleen dit daartoe om paragliding aan te bied vir wêreldklas paragliders en verras gereeld die paragliders met ‘n droomvlug saam met die Krans Aasvoëls.
Geleentheid bestaan vir die dorp en veral die toerismesektor om by die gebeurtenis te baat. ‘n Ontmoeting met sommige toerismesakemanne tydens hul Thabazimbi Toerisme bewusmakingsdag, het aangedui dat die toerisme industrie hul ondersteuning aan die gebeurtenis bied. Johan Muller van On Track en Kumba Myn is van die hoof ondersteuners van hierdie geleentheid. Willie Brits van Kumnandi Lapha Guesthouse het sy perseel reeds aangebied as een van die eind draaipunte van die kompetisie. Mnr Brits sien die waarde daarin dat die groep vlieëniers wat daar land moontlik sy restaurant en ander geriewe kan gebruik. Bergfietsroetes verder het Mongatane Lodge & TBZ Trophy Safaris, Boeta en Magdaleen, hulle hulp aangebied om die kompetisie in Duitsland en Spanje vanaf middel Februarie 2009 te help bemark. Verskeie ander Thabazimbi toerismesakemanne en -vroue was ook opgewonde oor die vooruitsig van blootstelling en die generering van inkomste.
Die organiseerders van die kompetisie, Walter Neser en Linda Willemse, waardeer die dorp se ondersteuning en deel in die opwinding oor die langtermyn groei van dié sportsoort in die area. Die Suid-Afrikaanse Hang Gliding en Paragliding Assosiasie (SAHPA) hoop om Thabazimbi te betrek met hulle sportsontwikkelingsprogram ten bate van die areas waar die sport beoefen word aangesien sporttoerisme ‘n vinnig groeiende bedryf is. Hul het die hoop uitgespreek dat die Paragliding Wêreldbeker volgende jaar hier gehou word wat baie internasionale belange sal ontlok.
Vir enige iemand wat belangstel om die sport te beoefen of om betrokke te raak by die kompetisie, gaan na www.flythaba.com of kontak Walter Neser tel 076 593 9849, tandemvlugte is ook beskikbaar.