General

Mathe verskyn in Johannesburg

JOHANNESBURG – Die berugte misdadiger, Ananais Mathe, wat teregstaan op 77 aanklagte wat onder andere in Thabazimbi, Rustenburg, Lichtenburg en Gauteng gepleeg is, verskyn op Maandag 16 Februarie in die Johannesburgse Hoogeregshof nadat hy vlugtig op 5 Desember 2008 verskyn het.
Dié 31-jarige Mosambiekse burger het groot opspraak verwek toe hy in November 2006 uit die Pretoriase C-Max-gevangenis, geag as die veiligste in die land, ontsnap het.
Daar was ook destyds grootskaalse televisiedekking van die brood wat Mathe se pa vir hom in die gevangenis gebring het, wat “muti” bevat het. Die aard van die medisyne is nooit vasgestel nie en Mathe se pa nie vervolg nie vanweë sy ouderdom.
Mathe het in Augustus 2005, nadat hy in April uit die Johannesburg Sentraal se Hoë Risiko Aanhouding-selle ontsnap het, heelwat misdade in Thabazimbi gepleeg. Hieronder was huisbraak, motordiefstal en hondevergiftiging.
Hy staan ook tereg op aanklagte van verkragting, poging tot moord en wreedheid teenoor diere. Mathe staan alleen tereg op hierdie aanklagte, hoewel drie ander beskuldigdes reeds tereg gestaan het op sommige van die aanklagte. Een is onskuldig bevind, een, waarskynlik die meesterbrein, is tot 5 jaar gevangenisstraf gevonnis en ‘n derde het ‘n opgeskorte vonnis gekry.
Na sy ontsnapping is Mathe in Desember 2005 weer vasgetrek deur die polisie en na C-Max-gevangenis oorgeplaas, maar in November 2006 het hy hieruit ontsnap. Hy is twee weke later weer in hegtenis geneem.