Impak van globale ekonomiese skok word weerspieël in Januarie 2009 se voertuigverkope
Die voertuigverkoopsyfers van die Nasionale Vereniging van Voertuigvervaardigers van Suid-Afrika (NAAMSA) vir Januarie 2009 toon ‘n dramatiese afname van 36,7 persent teenoor dié van Januarie 2008.
Passasiersmotorverkope, insluitende dié van AMH, was marginaal beter as die algemene verwagting met ‘n afname van 34,4 persent, terwyl dié van die handelsvoertuigsektore ‘n besliste aanduiding gee van die ekonomiese insinking.
In Januarie is 41 persent minder ligte handelsvoertuie as in Januarie 2008 verkoop, terwyl daar ‘n afname van 46 persent was in die afset van mediumswaar handelsvoertuie. Verkope in die swaar en die ekstra-swaar handelsvoertuigsektor, wat in die loop van 2008 ‘n mate van veerkrag getoon het, was ook swakker in ooreenstemming met die algehele mark.
“Ons moet Januarie se voertuigverkoopsyfers beskou in die konteks van die globale ekonomiese krisis wat gedurende die eerste kwartaal van 2008 kop uitgesteek het met ‘n snel stygende olieprys en enorme druk op kommoditeits- en voedselpryse gedurende die eerste ses maande van die jaar,” sê Johan van Zyl, President en Uitvoerende Hoof van Toyota Suid-Afrika.
“Hoë inflasievlakke het ‘n ernstige impak op monetêre beleid gehad, met ‘n gevolglik aansienlike opwaartse beweging in rentekoerse. Dalende vlakke van besteebare inkomste het tot gevolg gehad dat groot aankope op die lange baan geskuif is. In hierdie klimaat het die verkope van motorvoertuie in die loop van die jaar met 21 persent gekrimp.
“Die ekonomiese skok wat die wêreld sedert September ondervind, net toe die druk op kommoditeitspryse verlig is, het globale groeivooruitsigte op die kort termyn opnuut gedefinieer. Op die oomblik is ‘n realistiese voorspelling vir voertuigverkope in 2009 in Suid-Afrika 410 000 eenhede. Dit verteenwoordig ‘n potensiële afname in verkope van 23 persent teenoor dié van 2008 – en dit is bo en behalwe die inkrimping van 21 persent wat ons in die afgelope jaar ervaar het namate ons mark terugsak tot vlakke voor 2003.
“In die konteks van ‘n voorspelling van 410 000 voertuigverkope vir die jaar is Januarie se verkope binne die voorspellingsbestek. ‘n Verbetering in die inflasievooruitsigte het ‘n geleentheid geskep vir rentekoersverligting wat, tesame met laer olie- en kommoditeitspryse, besteebare inkomste sal verhoog en kopers sal teruglok na die mark namate ‘n mate van vertroue in die komende maande terugkeer.
“Ons kyk na ‘n afplatting in die mark in die eerste helfte van die jaar, met die potensiaal van ‘n opwaartse neiging in die derde en die vierde kwartaal,” sê Van Zyl.
Toyota het in Januarie, met ‘n afset van 7 318 voertuie, ‘n markaandeel van 22 persent gehad. Die maatskappy was weer eens die voorste uitvoerder van voertuie – altesame 4 689 eenhede is na oorsese bestemmings verskeep vir ‘n 44 persent-aandeel van die uitvoermark. Toyota se gesamentlike aandeel van die plaaslike en die uitvoermark was 28 persent.