Hengelaars by Roodekoppies Bonanza
NORTHAM – Die Northam Hengelklub het sy maandelikse kompetisie die afgelope naweek by die Roodekoppiesdam naby Brits gehou. Dit het saamgeval met die Roodekoppies Bonanza wat deur die Gauteng Noord Hengelvereniging aangebied is.
Ondanks die ongure, nat weer, het ‘n groep entoesiastiese Northam hengelaars hulle reeds vanaf Woensdag voor die hek staan gemaak en ywerig begin kamp opslaan toe die hekke Vrydag 12:00 geopen het.
Nie alleen moes hierdie gesoute hengelaars reën en die lang wag by die hekke trotseer nie, maar tussen die kamp opslaan en die hengelvoorbereiding het krokodil se kind, een van sowat 2,5m, ook sy verskyning gemaak. Hy het ‘n vyf meter oewer-streek gereeld gepatrolleer en geen twyfel gelaat dat sy spesie wél in die Roodekoppiesdam teenwoordig is nie.
Ten spyte van die nat weer was daar ‘n goeie opkoms vir die kompetisie. Northam Hengelklub het ‘n groep van 35 hengelaars ingeskryf en tussen hulle is daar 186 vis gevang met ‘n totale gewig van 171,25kg.
Een van die klub se hengelaars, Rudolf Dreyer, het ‘n tweede plek verower in die Bonanza “Barber Oewer Afdeling” met ‘n barber van 7,15kg.
Die Northam Hengelkub se wenners is bepaal deur die hengelaars met die meeste punte. In die Seniors Afdeling was Edwin Aylward eerste, Tokkie Burger tweede en Willem Heydenrych derde. In die Dames Afdeling het Martie Murray eerste plek verwerf, Nicolene Heydenrych tweede plek en Judith Pretorius derde plek.
In die Juniors Afdeling was Arnold Smith eerste, Johandré du Toit tweede en Ronaldo du Toit derde. Theunis Heydenrych was eerste in die Penkoppe Afdeling en Armand Pretorius was tweede.
Die Northam Hengelklub se volgende kompetisie vind plaas by Rietvleidam gedurende die naweek van 7 Maart. Alle belangstellendes kan die
klubvoorsitter, Ronnie du Toit, skakel by 073 665 8169 vir meer inligting.