Hartaanval eis geliefde moeder
THABAZIMBI – ‘n Bekende inwoner van Thabazimbi, Sybil Pistorius, het Sondagoggend 25 Januarie na ‘n tweede hartaanval beswyk.
Sy is die vorige dag per voertuig deurgeneem na Zuid-Afrikaanse Hospitaal waar Dr Osrin en sy span oor haar was, maar het in die oggendure stil heengegaan.
Tannie Sybil is op 29 Januarie uit die NG Kerk Thabazimbi deur Dr Tinus Benade begrawe.
Sy en haar man, Ala, het in 1948 Bosveld toe gekom waar hy in die myn by Chromite en sy in die mynkantore gewerk het. In 1958 het hulle op die plaas Elysium aan die Matlabasrivier begin boer. Gedurende die tydperk was hulle hoofsaaklik beesboere. Ma Sybil moes gedurende die droogte alleen op die plaas agterbly om die boerdery te behartig terwyl Pa Ala moes uitspring om ‘n ander inkomste te kry.
Na haar man se dood in 1997, het sy by haar dogter en skoonseun, Isabel en Johan Prinsloo gebly tot met haar afsterwe.
Volgens haar dogter het sy ‘n sonnige geaardheid gehad en was geliefd by haar vriendinne. Haar plekkie in die Kerk was elke Sondag gevul en haar teedrink-vriendinne sal haar staanplekkie langs die boom of in die hoekie by die saal nou leeg vind.
Die byeenkomste wat elke eerste Woensdag van die maand georganiseer was, het sy gereeld bygewoon en was dit vir haar heerlik om saam met die bejaardes te kuier.
Isabel en Johan bedank graag Tannie Martie Theron en haar mense vir dit wat hul vir tannie Sybil gedoen het.
Vir die kleinkinders en agterkleinkinders was sy ‘n wonderlike Ouma en vir Johan en Isabel ‘n baie goeie ma.
Tannie Sybil laat een dogter, Isabel, vier kleinkinders en drie agterkleinkinders na.