Bushveld Babes kom trakteer Thabazimbi gehoor
THABAZIMBI – Die bekende plaaslike dansgroep die “Bushveld Babes” gaan Thabazimbi se mense op 7 Maart nie alleen met hul eie vertoning trakteer nie maar ook met ‘n Skuurdans, of te wel ‘n “Barn Dance” daarmee saam aanbied. ‘n Driegang maal maak ook deel hiervan uit.
Die Bushveld Babes is in 2005 uitgenooi om as deel van die Hollandse Karnaval wat by Leeukrans aangebied is, op te tree. Die vertoning het geweldig groot byval by die gehoor gevind. Aangesien die Bushveld Babes hulle dans geniet, het hulle besluit om hul eie “Show” op die planke te bring.
Die eerste vertoning was in 2006 toe hulle ‘n ete, dans en kabaretvertoning by Blinkwater Lodge aangebied het met die Bushveld Babes as die hoof vertoning. Die aand was ‘n reuse sukses met 250 kaartjies wat verkoop is. Die wins van die aand se vertoning is aan plaaslike instansies oorbetaal.
Hierdie optredes het ‘n jaarlikse instelling geword en heelwat instansies en persone het reeds baat hierby gevind. Hieronder is die Leeupoort Forum, biblioteek en jukskei. Een jaar se wins is oorbetaal aan Hannlie Lotter, deesdae ‘n inwoner in Thabazimbi, nadat haar been afgesit moes word.
Die Bushveld Babes het besluit om vanjaar ook hul vertoning na Thabazimbi te bring. Aangesien hulle baie op donasies staatmaak om die vertoning op die planke te kan bring het hulle ‘n groot borgskap van Hurlyvale Fresh Meat Supply in Edenvale Johannesburg gekry wat dan ook die hoofborg vir vanjaar se vertoning is.
Die plaaslike organisasies wat by die vertoning gaan baat is Helpende Hande, die plaaslike tak van die Kanker vereniging en die plaaslike SAVF (Suid-Afrikaanse Vroue Federasie) wat veral baie gemoeid is met die plaaslike welsynskantoor. Die SAVF dames is ook betrokke by die spyseniering van die aand en dit beloof om uit die boonste rake te wees.
Die Bushveld Babes beloof ‘n aand van baie pret asook deelname deur die gehoor. Hulle nooi dan ook almal om in hul “Cowboy” monderings op te daag.
Die aand se verrigtinge begin om 19:00 en word by die Kumba saal (ou bioskoopsaal) aangebied. Kaartjies is beskikbaar teen R85 per persoon by Thaba Stereo (Debbie), Joan (083 5566 196), Helpende Hande (Lydia – 073 272 0153) en SAVF (Loraine – 083 549 8533).