General

Buffelinligtingsdag

THABAZIMBI – Die toekoms van die Suid-Afrikaanse buffelbevolking en die verantwoordelikheid om hulle siektevry te hou, berus tot ‘n groot mate by privaatboere, sê Herman Barnard, voorsitter van die WRSA (Wildbedryf SA) se tak in Thabazimbi.
‘n Buffelinligtingsdag word op 11 Februarie op die plaas Lumarie tussen Thabazimbi en Bela-Bela van Jacques Malan gehou. Die hoofspreker is Wicus Pretorius van die WRSA, buffelboer en grondeienaar in die Rooiberg-area. Hy sal praat oor “Buffelboerdery in die Thabazimbi bosveldgebied”.
Volgens Pretorius is daar tans 1 918 eiendomme geregistreer waar altesaam sowat 20 000 buffels in privaatbesit aangetref word. Na verwagting sal hierdie getal 30 000 wees teen 2012. Dit maak ‘n groot persentasie uit van die totale aantal buffels in Suid-Afrika en verduidelik waarom beheer van private buffeltroppe noodsaaklik is.
Altesaam 90% van hierdie buffels buite die Bek-en-Klouseer en Ooskuskoors Beheersones is siektevry. Skoon buffels is nie geïnfekteer met Bek-en-Klouseer, Korridorsiekte (oftewel Ooskuskoors), beestering of brusellose (besmetlike misgeboorte) nie. Van die 31 000 buffels in die Kruger Nasionale Park is sowat 90% besmet met beestering.
Die staat het die beheer van buffels in 1998 begin deur dit verpligtend te maak om buffels vir siektes te toets voordat hulle vervoer word, buffelplase te laat registreer en ‘n nasionale buffelsensus te hou.
Volgens Pretorius moet buffeleienaars hulself reguleer, asook die instansies betrokke by buffelvangs en –vervoer.
Die program vir die buffelinligtingsdag begin om 09:00 wanneer ‘n besigtigingsrit aangebied word en ‘n inligtingsessie volg daarna om ongeveer 11:00. Hierna word middagete bedien. Belangstellendes kan by die WRSA-kantoor bespreek by tel 012 335 6994 (Lizette van der Merwe) of per faks by 012 335 1059 of per e-pos by admin@wrsa.co.za. ‘n Bedrag van R50 is betaalbaar vir die dag. Die plaas Lumarie is op die Bela-Bela pad, sowat 30km van die Koedoeskop-afdraai, aan die noordekant van die pad.