Entertainment

Bosveld Dorperklub vier 25st bestaansjaar

BELA-BELA – Die Bosveld Dorper Klub se jaarlikse Boeredag vind op Saterdag 21 Februarie in Bela-Bela plaas.
Die dag begin om 08:30 en vind plaas in die Stoetvee Klubhuis op die Skouterrein, oorkant die pad van die Waterfront. Tydens die Boeredag word die  25ste bestaanjaar van die Bosveld Dorperklub herdenk.
Volgens die klub se voorsitter, Kobus Potgieter, word daar met groot trots gekyk na die fenomenale ontwikkeling van die Dorper-skaapras in die bosveld. Boere het besef dat ‘n goeie kwaliteit Dorper is ‘n beter belegging as ‘n swakker skaap met min vleis en ‘vier blaaie’. Die Dorper produseer ‘n swaarder slaglam en waarborg ‘n mooier karkas.
Potgieter het voorts gesê dat die volgehoue onbaatsugtige toewyding en entoesiasme van 140 klublede het dit vir die klub moontlik gemaak om oor die jare te groei tot die grootste Dorperklub in Suid Afrika. In 2007/08 het die Bosveld Dorperklub dan ook die toekenning gekry vir die beste Dorperklub in Suid-Afrika.
In die Bosveld het die Dorperskaap behoorlik vastrapplek gekry, lui ‘n verklaring van dié klub. Op baie plase en kleinhoewes word tans Dorper of Dorpertipe skape aangetref. Vandat die klub in die jare tagtig op Warmbad met stoetveilings begin het, en later ook uitgebrei het na Pietersburg en Potgietersrus, het die kwaliteit van skape in die Bosveld baie verbeter.
Die Boeredag se program sluit in ‘n inligtingsessie deur Raymond Read, Dorperboer van Settlers en bekende internasionale Dorper-beoordelaar en -inspekteur. Hy gaan ‘n demonstrasie en praatjie lewer oor die ras en die kommersiële boer se rol in skaapvleisproduksie.
Hierna gaan dr Dave Midgely van Pfizer Dieregesondheid ‘n praatjie gee oor skaapsiektes en kuddebestuur. Boere kan ook kers opsteek oor die optimalisering van slaglamproduksie.
Die praatjie oor die Landbou Ekonomie gaan deur ‘n bekende ekonoom van Standard Bank behartig word.
Die “Certified Dorper Lamb”-handelsmerk wat nou beskikbaar is, waarborg ‘n voortreflike en smaaklike produk. Boere kan ook ‘n premie kry as hulle lammers onder dié handelsmerk verkoop.
Registrasiegelde vir die Boeredag beloop R50, wat middagete insluit.
Na afloop van die oggend se verrigtinge, om 14:00, vind die klub se 25ste Algemene Jaarvergadering plaas. Alle lede is versoek om dit by te woon, asook nuwe lede.
Vir verdere navrae kan Kobus Potgieter (voorsitter) by 083 654 4594, Raymond Read (ondervoorsitter) by 082 4444 051 of Annetjie van Wyk (sekretaresse) by 015 516 4948 geskakel word.