Suksesvolle Toerisme vergadering identifiseer toerisme prioriteite
THABAZIMBI – ‘n Baie suksesvolle vergadering wat bygewoon is deur eienaars en bestuurders van verskillende gastehuise en fasiliteite van die omgewing, is op 22 Januarie by die Kunstegrot gehou.
Op die vergadering is ‘n klompie doelwitte en prioriteite vir 2009 uiteengesit. Daar is ‘n paar geleenthede waar Thabazimbi waarlik as ‘n toerismebestemming bemark kan word. Volgens Johan Muller van On Track is dit egter noodsaaklik dat dié geleenthede ten volle benut moet word sodat Thabazimbi se beeld positief uitgedra word. Die volgende geleenthede is tydens die vergadering geïdentifiseer as die belangrikstes:
Die Thabazimbi Wild en Toerisme Expo 30 April – 2 Mei 2009;
Die Toerisme Indaba in Durban 9 – 12 Mei 2009;
Die “Getaway” skou in Johannesburg 11 -13 September 2009;
Kumnandi Lapha se “In vlieg” ontbyt op die 30ste Mei;
Walter Nesser bied weereens ‘n “paragliding” kompetisie in Thabazimbi aan op die 15de tot 21ste Maart 2009. Daar gaan genoeg mediadekking wees om regtig ‘n groot impak te maak in die toerisme bedryf.
Volgens Muller moet al die bogenoemde geleenthede ten volle benut word om die dorp goed te kan bemark as ‘n toerismebestemming.
Die belangrikste egter, is om iets vir die mense te kan gee oor ons dorp. Daar is tans geen brosjure, lisensiehouer plakkers, poskaarte of enige iets met Thabazimbi daarop nie. Om hierdie dinge in plek te kry, is dit noodsaaklik om die gemeenskap betrokke te kry by toerisme in die vorm van idees en belangstelling. ‘n Baie groot prioriteit is die samestelling van ‘n brosjure wat op al dié geleenthede versprei kan word. ‘n Beroep word gedoen op die gemeenskap om van hulp te wees in hierdie spesifieke saak. Enigiemand wat dus kan help met so iets moet dringend met Johan by die toerismekantoor in verbinding tree. Sonder ‘n ordentlike brosjure met al die inligting kan die doel om Thabazimbi een van die mees gesogte toerismebestemmings in die Limpopo te maak nie bereik word nie.
Almal wat ‘n toerisme fasiliteit het in die Thabazimbi omgewing word versoek om seker te maak dat die inligting by die toerismekantoor op datum is, sodat dit in die brosjure geplaas kan word. Indien u iets het wat interessant is en wat kan bydra tot die aantreklikhede in en om Thabazimbi, laat weet ook die toerisme kantoor sodat dit ingesluit kan word in die bemarking, byvoorbeeld pottebakkery, kralewerk, houtwerk, avontuur geleenthede, stap- en fietsroetes of enige iets wat u dink van belang is. Almal se insette word benodig om hierdie ‘n groot jaar vir Thabazimbi se toerisme bedryf te maak.
Die tema vir die jaar is : Ondersteun toerisme, want toerisme ondersteun jou !
U word uitgenooi om betrokke te raak deur Johan Muller te skakel by 014 777 1917 (ku) of op 083 770 9917 (nu) vir enige inligting in verband met toerisme of inligting oor bogenoemde geleenthede.