Nuweling Nanette Nel sing magiese note

BRITS – ‘n Vars en vrolike jong ’04 Cressendo finalis het in die eerste twee weke waarin haar CD uitgereik is, die 200-tal verkope behaal.
Nanette, ‘n twintigjare van Brits, het sedert 2004 by verskeie feeste en vakansie-oorde opgetree, onder andere Aardklop, KKNK, ATKV funksies te Hartbeespoort, Nartjie Karnaval te Brits, Kokoriba Wildreservaat en Atlanta Vakansie-oord.
Die indrukwekkende lys van kunstenaars saam met wie Nanette al opgetree het sluit in Nedine Blom en Wynand Strydom tydens die toer saam met Stage Productions in 2005 Desember vakansie; Bobby van Jaarsveld tydens die OP POP fees te Brits, Karen Ferreira – Idols finalis en Zing wenner en Jan de Wet tydens die Carols by Candlelight optrede.
As verhoogpersoonlikheid tree sy ook gereeld op as seremoniemeester. By Maroelafees in 2008 waar sy ‘n drie uur gesinsvermaakprogram aangebied het waar die hele gesin saam kon deelneem, was sy ook gasvrou van Frank Opperman se twee uitvoeringe van Wyk 14. Nanette doen verder talle optredes in kerke en vir liefdadigheid en het selfs ‘n rits optredes by Legends & Co gedoen.
Wie is ek, Nanette se nuwe CD, is propvol oorspronklike musiek waarvan Nanette self die lirieke geskryf het asook die toonsetting behartig het. Die liedjies sluit in, “Ek kom haal jou met ‘n roomys”, “Daisy’s uit die kerk se tuin”, “Stories van my oë” en die titelsnit “Wie is ek”. Dit is lekker-luister musiek met soete goed-voel klanke en nostalgie aan jong kommervrye studentedae.
Hierdie jong musikant het haar voete stewig op die verhoog terwyl sy reik na die sterre.
Vir meer inligting kontak Carla Fourie by Brazen Events 082 906 9002.