Sport

Northam Hengel reeds volstoom aan die gang

NORTHAM – Northam Hengelklub se eerste hengelkompetisie in 2009 is die afgelope naweek by die Konsentratordam aangebied.
Ten spyte van ongure weer was die opkoms goed en die hengelaars was positief en entoesiasties oor die hengelvooruitsigte. Die 65 ingeskrewe hengelaars het altesaam 1033 vis gevang met ‘n totale gewig van 565 kg.
Volgens die hengelaars het die dam “uit sy nate gebars” en een van die gevolge hiervan was ‘n karp van 7,334 kg wat uitgetrek is deur Marcel Evert.
In die Senior Afdeling was die wenner Edwin Aylward. Wilhelm van der Berg was tweede en Demsie du Toit derde.
In die Dames Afdeling was Martie Murray eerste, Desiré Strydom tweede en Rika Meintjies derde.
Nico Geldenhuys het eerste gekom in die Junior Afdeling met Jaco Geldenhuys tweede en Marcel Evert derde.
In die Penkoppe Afdeling was Dawie de Kok die wenner met Johan Niemand tweede en Theunis Heydenrych derde.
Northam Hengelklub se volgende kompetisie vind plaas by die Roodekoppiesdam op Vrydag 30 Januarie. Die kompetisie vind saam met die Roodekoppies Bonanza plaas. Groot kontantpryse kan by dié kompetisie gewen word.
Die Northam Hengelklub gaan vanjaar hengelaars inskryf vir die Noordwes Proewe en dus sal meer kompetisies by ander damme aangebied word vir die nodige ondervinding. Daar sal dus maandelikse kompetisies wees by verskillende damme soos Rust de Winter, Rietvlei, Roodekoppies, Olifantsnek en Vaalkop.
Die datums en damme waar kompetisies gehou word sal binnekort in Die Kwêvoël verskyn. Alle belangstellendes kan die klubvoorsitter, Ronnie du Toit, skakel by 073 665 8169.