Zim cholera bedreig SA landbou
Elana Greyling
Cholera is reeds besig om na Suid-Afrika oor te spoel vanuit haglike toestande in Zimbabwe.
Onkunde oor die siekte bedreig egter nou ook Suid-Afrikaanse boere. Nadat gerugte die rondte begin doen het dat cholera nou ook in die Limpoporivier voorkom, het bespiegelings begin oor die oordrag van die siekte deur vars produkte wat vanuit die rivier besproei word. Ten minste een vrag tamaties van ‘n Limpopo-boer is vanaf die Johannesburg Vars Produkte mark teruggestuur.
Die wyse van oordrag van die siekte is egter nie absoluut bekend nie. Volgens die Dept Landbou hou produkte geen direkte gevaar vir verbruikers in nie, mits die groente of vrugte droog is en onder higiëniese toestande gewas en verpak is. Daar is egter mediese dokters wat hiervan verskil en meen dat die bakterie slegs vernietig word wanneer dit gekook word. Groente en vrugte wat rou geëet word, soos tamaties, sou dus gevaar kon inhou.
Dit is duidelik dat meer navorsing hier uiters noodsaaklik is.
Daar is egter geen rede vir kommer onder verbruikers nie, aangesien tamaties, of enige ander groente of vrugte, nie tans langs die Limpoporivier verbou kan word nie, weens die hitte. Produsente soos die bekende ZZ2 sal eers weer in Februarie met tamatie produksie in die gebied begin.
Toetse het bewys dat die bakteriee vanaf Beitbrug in ‘n oostelike rigting in die rivier voorkom. Presies hoe ver die besmetting strek, is egter nog nie bevestig nie.
Volgens Agri SA is gebeurlikheidsplanne wyd in die landbou langs die Limpopo- en Nwangedziriviere geïmplementeer om die impak van cholera op gemeenskappe, boere, plaaswerkers en swerwers te beperk.
Opkomende boere, bestaansboere en begunstigdes van grondeise in die Madunbo-korridor, Nwangedzi-vallei en Pafuri word die ergste deur die voorkoms van die cholerabakterie in rivierwater geraak. Plaaswerkers en kommersiële boere het egter toegang tot onbesmette water.
Daar is nie baie kommersiële boere in die besmette gebied nie, en dit is tans te warm om veel groente of ander vars produkte in die gebied te produseer. Boere sal eers in Februarie weer begin plant. Alhoewel verbruikers en boere dus nie direk deur cholera geraak word nie, bestaan die moontlikheid dat onverantwoordelike bespiegelings en die nalatige bestuur van die krisis tot groot skade kan lei.
Dit is veral verbruikersweerstand teen produkte wat uit die Limpoporivier besproei word en onsekerheid oor die oordraagbaarheid van cholera deur groente en vrugte wat die produsente in die mark kniehalter.
Die groter markte soos die Johannesburg Varsproduktemark toets varsprodukte uit die geaffekteerde gebied om verbruikers teen besmette produkte te beskerm.
Agri Limpopo het met die LUR van Landbou in die Limpopo Provinsie, me Dikheledi Magadzi, ooreengekom om watertenkers na die gebied te stuur om skoon drinkwater aan boere, plaaswerkers en plaasplakkers beskikbaar te stel. Boere en plaaswerkers het toegang tot higieniese water en word dus nie direk bedreig nie. Daar word ook ‘n omvattende inligtingsprojek rondom cholera in die gebiede geloods.
Volgens dr Theo de Jager, adjunk president van Agri SA is die probleem in die Limpoporivier en sy sytakke egter net ‘n manifestasie van ‘n veel groter waterbesoedelingsvraagstuk in Suider-Afrika. Dit is Agri SA se standpunt dat die staat veel meer moet doen om waterbesoedeling veral uit die industriële-, mynbou- en informele residensiële sektore hok te slaan. Besoedeling in verskeie opvangsgebiede stuur op ‘n soortgelyke krisis as die in Limpopo af en behoort as ‘n nasionale bedreiging bestuur te word.
Landbouers en verbruikers kan maar net hoop dat hierdie ernstige bedreiging deur beide die Zimbabwiese sowel as die Suid-Afrikaanse regerings tydig en effektief opgelos sal kan word.