Veediefstal neem toe
THABAZIMBI – Voorvalle van veediewery, veral van kleiner vee, het skielik die afgelope paar weke toegeneem.
Daar is onlangs 20 skape gesteel op die plaas Holland van mnr Van Dyk in die Dwaalboom-distrik. Dan is daar ook 1 skaap gesteel in Makoppa by ene Botes asook ‘n bees in Makoppa by Edwin Malan. Volgens die Veediefstaleenheid is van die veediewe reeds vasgetrek.
Daar word aanbeveel dat boere bewus moet wees van die gevaar, en die vee gereeld nagaan en tel. Hierdie tipe voorvalle kom tipies meer gereeld voor tydens die Kersseisoen, meer as enige ander tyd van die jaar.
Baie van die diere word in strikke gevang, wat die dier dikwels ‘n baie pynlike dood laat sterf. Veediewe wat plaasdiere op hierdie manier laat vrek en vasgetrek word, word dikwels aangekla van wreedheid teenoor diere. Party diere versmoor of ander sterf geleidelik as gevolg van ‘n gebrek aan water en kos.
Dikwels kan die vee nie vervoer word nie en word stukke van die vleis uitgesny en verkoop teen spotgoedkoop pryse, vir baie minder as waarvoor dit aangekoop is of wat dit werd is op die ope mark. Die res word onbenut in die veld agtergelaat.
Volgens Capie van Dyk by die Thabazimbiese Veediefstaleenheid is dit belangrik dat boere seker maak hul vee is voldoende en volgens voorskrif gemerk. Vir enige navrae hieroor of die registrasie van brandmerke, kan hy geskakel word by 078 251 0860.