General

Nog klagtes oor onwettige vullisstorting

THABAZIMBI – ‘n Derde klagte binne drie weke is deur die Kwêvoël ontvang oor inwoners van die dorp wat vullis op onwettige plekke stort, hierdie keer by die Doornkopplotte sowat 1,5 km uit op die Sentrumpad net wes van Obaro.
Volgens ‘n inwoner in die area, Heila van der Merwe, is sy al moedeloos. Op die oop plot langs haar huis stort mense alles van trekkerbande tot huisvullis. Sy het reeds twee skape verloor omdat die plastiek rondwaai tot binne haar eiendom en die skape daaraan vreet. Volgens Van der Merwe is sy gedurig besig om rommel uit haar eiendom te verwyder. Sy het ook al reeds met die munisipaliteit in verbinding getree, maar sonder veel sukses.
Mnr Matlatse Maebana, Siviele Afdelingshoof by die munisipaliteit, het te kenne gegee dat die onwettige storting van vullis onwenslik is. Hy het versoek dat die publiek ingelig word oor waar die stortingsterrein is en gesê dat almal hulle vullis op die regte plekke moet stort.
Hy kon egter nie met oortuiging sê dat oortreders vasgevat sal word of dat daar teen hulle opgetree sal word nie. Op ‘n vraag of boetes opgelê kan word aan oortreders en of enige vorm van munisipale of nasionale wette toegepas kan word, kon hy nie uitsluitsel gee nie. Hy het versoek dat Van der Merwe hom kom sien sodat ‘n plan van aksie, moontlik in samewerking met die polisie of verkeersdepartement, uitgewerk kan word.
Indien inwoners van Thabazimbi in ‘n skoon dorp wil woon, sal een en almal ‘n bydrae moet maak. Die meerderheid mense volg reëls en vermy onwettige en onnodige storting van vullis. Hierdie groep moet egter optree teen diegene wat nie soveel vir die omgewing en hul dorp omgee nie.
Deur verskeie rolspelers in die dorp moet druk op die munisipaliteit uitgeoefen word om wette in plek te stel of bestaande wette toe te pas, sodat Thabazimbi die mooi dorp kan wees wat dit die potensiaal het om te wees.
Vir enige verdere klagtes oor onwettige rommelstrooiery kan mnr Maebane by die munisipalteit gekontak word op tel 014 777 1014 of op sy selfoon 073 324 0492.