Sport

Marakele 4X4 weer uitgetoets

THABAZIMBI – Volgende jaar word die Marakele 4X4 roete amptelik bekendgestel, maar die roete word voortdurend uitgetoets soos die afgelope naweek gebeur het.
Van middagete Vrydag 5 tot Sondag 7 Desember het verteenwoordigers van Sanparke se hoofkantoor by Groenkloof en plaaslike inwoners soos Walter Bresele van Thabazimbi Motors die roete getoets.
Die roete is in sy finale stadium van voorbereiding voordat dit amptelik bekendgestel word gedurende die eerste kwartaal van 2009.
Behalwe vir ‘n paar kleiner verbeterings wat aangebring moet word, soos modder op ‘n vleiland-area, die daarstelling van alternatiewe roetes op plekke en ‘n hoë riviervlak (te hoog vir ‘n onopgeboude voertuig), was die roete so te sê reg om in gebruik te neem.
Volgens Walter Bresele was dit ‘n baie aangename proeflopie. Die laaste werk word tans aan die oornagfasiliteite by Waterhoutboom en Buffelspoort aangebring. Alles was egter gereed vir hulle by die oornagkampe.
Die roete is beplan op die ou plaaspaaie wat voorheen op die plase bestaan het. Die ongelooflike natuurskoon, bergagtigheid en variasie in omgewing leen hom uitstekend tot die skepping van hierdie roete, het parkwoordvoerders gesê.
Die roete, wanneer dit in gebruik is, sal op georganiseerde basis plaasvind, wat ‘n driedag-tweenag uitstappie sal wees. Die roete sal gelei word deur ‘n veldwagter en sowat vyf voertuie sal op ‘n slag die roete voltooi.