Eskom stel Omgewingstudie uit
Elana Greyling
LEPHALALE – Na afloop van ‘n vergadering tussen Eskom en rolspelers, is besluit om die kommentaarperiode vir aanbevelings rondom die omgewingsimpakstudie uit te stel tot einde Januarie 2009.
Inligting is verskaf oor die verloop van die studies en die hele proses asook nuwe tegnologie wat Eskom na bewering in staat sal stel om meer elektrisiteit deur minder drade te stuur. Dit omvat een van die bekommernisse van grondeienaars, dat al die krag wat in die nuwe kragstasies opgewek sal word, weer na die Rand vervoer moet word en dat nuwe kraglyne en substasies gebou sal moet word.
Dit is vir verskeie grondeienaars, wat reeds van November 2006 by soortgelyke prosesse in dieselfde area betrokke is, ironies dat ‘n impakstudie wat verlede jaar deur Margen Consulting afgehandel is, grootliks deur die Departement van Omgewingsake geïgnoreer is. Die konsultante se aanbevelings is deur Eskom self teengestaan en dus nie gevolg deur die Departement nie toe besluit is waar om ‘n substasie en hoe spanningslyne te plaas. Presies dieselfde gebied word nou van voor af deur ‘n ander konsultasie-maatskappy bestudeer.
Nog ‘n groot bron van kommer, volgens een van die grondeienaars, is dat Eskom ses maande gelede nie hierdie planne om die twee steenkool-aangedrewe kragstasies in dieselfde gebied te bou, bekend gemaak het nie, ten spyte van die feit dat deelnemers herhaaldelik gevra het vir langtermynbeplannings in die gebied. Daar bestaan dus ‘n algemene gevoel van wantroue teenoor Eskom en die vraag kan gevra word hoe effektief enige studies in die gebied afgehandel kan word. Bespiegelings is volop dat Eskom ook reeds met grondeienaars begin onderhandel het.