General

Boere nie die groot sondaars nie

TLU SA is uiters ongemaklik met die Minister van Waterwese en Bosbou, Lindiwe Hendricks, se uitlating dat sy boere wil vervolg, omdat dié na bewering water uit die Vaalrivier steel.
Die Adjunk-President van TLU SA, mnr. Louis Meintjes, sê dat toe minister Hendricks onlangs op ’n toer deur die Noord-Kaap gegaan het om onwettige watergebruikers te probeer vervolg, sy hoofsaaklik op myne afgekom het wat die water onwettig gebruik, en dit dan bowendien in besoedelde vorm terugstoot in riviere.
“Minister Hendricks het beweer dat daar 183 miljoen kubieke meter water per jaar uit die Vaalrivier gesteel word.  Sy het die insinuasie gelaat dat dit alles deur boere gesteel wou word.
“Die Vaaldam se kapasiteit is 2 603,4 miljoen kubieke meter.  Indien die Vaaldam dus eenmalig vol sou wees, en geen verdere invloei van water sou plaasvind nie, is die 183 miljoen kubieke meter wat “gesteel” sou word, net meer as 7% van die hele Vaaldam se kapasiteit.  TLU SA is egter op rekord dat hy sy boere adviseer om binne die riglyne van die wet op te tree.  As daar ’n boer sou wees wat oortree, moet die reg inderdaad sy loop neem.  Maar indien slegs ’n enkele boer oortree, verwag ons dat die Minister die geval as sodanig sal hanteer, en haar sal weerhou van veralgemenings.
“Minister Hendricks sal dalk daaraan goed doen om boere langs die Vaalrivier persoonlik te besoek, en haar te vergewis van die situasie.  Boere is toenemend huiwerig om water uit die Vaalrivier te gebruik, as gevolg van die hoë besoedelingsvlakke van dié stelsel.  In plaas daarvan om te poog om ’n ongetoetste 7% “diewe” op te spoor, kan sy eerder haar energie en krag inspan om die 100% besoedelaars op te spoor, want dit gaan lei tot verminderde of ongesonde voedselproduksie.” sê mnr. Meintjes.