Nog steeds geen busse vir dié leerders nie
KROMDRAAI – Sedert die begin van die vierde kwartaal, vir die derde keer vanjaar, is daar ‘n onderbreking in die busdiens wat sowat 100 kinders vervoer tussen Kromdraai en skole in Leeupoort en Rooiberg.
Na raming het van hierdie kinders ten minste ‘n kwartaal se skoolwerk gemis, as gevolg van die feit dat daar geen manier vir hulle is om die skole, sowat 28km van waar hulle woon, by te woon nie.
Van die ouers beweer dat hulle gewaarsku is daarteen om hul kinders uit die skool te hou as hulle nie hul kindertoelae van die staat wil verloor nie. Hierdie bewerings kon nie bevestig word nie, en dit blyk dat dit ‘n aansporing was vir ouers om nie hul kinders onnodig uit die skool te hou nie.
Vir die ouers is sulke dreigemente egter nutteloos, want, as die bus nie loop nie, is daar geen manier waarop die kinders by die skool kan uitkom nie.
Volgens Charles Stander van Kromdraai, wat self kinders in Leeupoort Laerskool het, maak hy nog op ‘n manier plan om sy kinders by die skool te kry, maar selfs hulle gaan nie elke dag nie. Hy veg veral vir die reg van die leerlinge van Tloutona Primary in Leeupoort en Itereleng Secondary in Rooiberg om skool by te woon. Hy en sy gesin verskaf gratis oornagfasiliteite aan die busbestuurder van Laeveld Busdiens op sy erf in ‘n buitegebou.
Die groot probleem bly egter die nie-betaling van die Limpopo se Departement van Onderwys aan die buskontrakteur. Volgens Dirk Heyns van Laeveld Busdiens, wat die roete bedien, skuld die onderwysdepartement hom reeds meer as ‘n halfmiljoen rand vir roetes wat hy reeds gery het, maar waarvoor hy nog geen betaling ontvang het nie.
Toe die leerdervervoer die verantwoordelikheid van die Dept van Onderwys geword het in Maart vanjaar het daar blykbaar ‘n verandering ontstaan in die administratiewe proses wat gevolg word om betalings deur die department te laat goedkeur. Heyns sê hy is nooit ingelig oor watter dokumentasie verskaf moet word nie. So byvoorbeeld moet bevestiging van skoolhoofde verkry word dat die busse wel die roetes gedoen het, iets wat nooit voorheen nodig was nie. Van die papierwerk is nou in die proses om afgehandel te word.
Hy is bereid om die leerders steeds te vervoer, selfs al word al sy volledige rekening nie onmiddellik vereffen nie, as hy ‘n volledige instruksie in hierdie verband van die departement sou ontvang. Hy het al dikwels in die verlede vir ‘n week of twee nadat sy kontrak verstryk het die leerders aanhou vervoer, bloot omdat hy graag die kinders tegemoet wil kom.
Stander, wat die lot van die leerders van Kromdraai baie ernstig opneem, sê hierdie situasie kan nie langer geduld word nie. Met sy inmenging het die Beeld in September ook berig oor die kinders wat nie skool toe kan gaan nie. As hy net onderwysminister Naledi Pandor in die hande kon kry, sou hy dit na die hoogste vlak wou neem.
Dit blyk, maar kon nie bevestig word nie, dat die provinsiale departement ‘n taakspan aangestel het om die vervoerprobleem te ondersoek. Volgens Heyns van Laeveld Busdiens is hy selfs op ‘n Sondag deur ‘n amptenaar van die departement genader om finansiële dokumentasie te verskaf.
Niemand by die Onderwysdepartement kon vir kommentaar opgespoor word nie.
Natuurlik raak die probleem nou ernstig, sê Stander, want die eindeksamen kom nader en hierdie leerders, waarvan sommige in matriek is, was vir omtrent ‘n kwart van die jaar tuis.
Hy bevraagteken die Onderwysdepartement se plegtige onderneming om die jeug ‘n goeie opvoeding te gee, sê Stander. Die boodskap wat die kinders kry is dat die departement net nie omgee vir hulle en hul opvoedingsbehoeftes nie. En boonop raak ‘n lewensbenadering van traak-my-nie-agtigheid en dis-nie-nodig-om-jou-verantwoordelikhede-na-te-kom-nie deur die kinders aangeleer.
Daar was voorheen ‘n Gr 1 tot 12 plaasskool op Kromdraai, maar dit is deur die Onderwysdepartement gesluit sowat ‘n jaar gelede. Nou is dieselfde departement verantwoordelik daarvoor dat hulle nie kan skoolgaan nie.
Die probleem is egter baie groter en wyer as mens sou aanneem dat hierdie toedrag van sake oor ‘n periode by ‘n hele aantal skole deur die land voorkom. Behalwe die gebrek aan akademiese opleiding, wat tot gevolg mag hê dat ongeskoolde mense ontaard in leeglêers en misdadigers, is daar leerders wat ook nie by hul sport uitkom nie. Sport mag nog die een ding wees wat ‘n kind op die regte koers kon hou en betekenis in die lewe gee, meen Stander.