Geen water Maandag
THABAZIMBI – Hoewel die waterbeperkings verlede Vrydag opgehef is, moet Thabazimbiërs Maandag 20 Oktober ‘n wateronderbreking te wagte wees van 06:00 tot 18:00.
Die dele van die dorp wat geraak sal word is Thabazimbi-dorp, Regorogile Uitbreiding 2, Ipelegeng, Mmebane Hostel en die Thabazimbi-hospitale.
As deel van die verbetering van die waterretikulasiestelsel moet ‘n klep in ‘n 355mm-pyp installeer word sodat, wanneer hierdie 30jarige ou pyp weer probleme verskaf, dit afgesluit kan word van die res van die stelsel en water steeds aan die dorpsreservoirs voorsien kan word.
Behalwe die installering van die nuwe klep, sal die bufferreservoir by die pompstasie tydens die wateronderbreking skoongemaak word, drukkleppe vervang word en lekplekke herstel word.
Die munisipaliteit het onderneem om die geaffekteerde areas met behulp van watertenks op voertuie van water te voorsien.