Vrystater wen boereworskompetisie
SUN CITY – Die wenner van die Shoprite Checkers Championship Boerewors-kompetisie die afgelope naweek by Sun City se Valley of the Waves was ‘n man van die Vrystaat. Mpumalanga het die naaswenner en Limpopo die derde plek opgelewer.
Die wenner, Dewald Rabie, vleismarkbestuurder by Shoprite Kroonstad het die boereworskroon ingepalm sowel as ‘n splinternuwe Toyota Hilux 2.7 dubbelkajuit. Nic Jordaan van Bethal, Mpumalanga en Johnny Erasmus van Tzaneen in die derde plek het geskenkbewyse en kontantpryse gewen. Ook Johnny is ‘n Shoprite-vleismarkbestuurder, in Tzaneen.
Dit is die veertiende jaar wat hierdie kompetisie aangebied word. Al drie die wenners het minstens vir die derde maal aan die kompetisie deelgeneem. Altesaam 1 100 inskrywings is vir die eerste ronde ontvang en uiteindelik het 10 van hulle sake uitgespook in die nasionale kompetisie by Sun City.
Die beoordelaarspaneel het ‘n hele paar bekende name bevat soos Martin Kobald, Carmen Niehaus, Pieter Veldsman en Owen Julies. Die beoordelaars het eers die wors rou geproe en daarna die gebraaide wors getoets.
Die aktrise Brumilde van Rensburg (van Egoli-faam) en Soli Philander (Liriekeraai-faam) was die aankondigers en meeste van die Sewende Laan-karakters was ook by die kompetisie, waar hulle die toeskouers vermaak het.
Hoewel Matrone nie daar was nie, behalwe as sy onherkenbaar vermom was, het Hilda haar verskyning gemaak sonder oënskynlike probleme. Sy was ook nie die perseel verbied nie. Ander Sewende Laners wat hul verskyning gemaak het, was San-Mari, Emma, Vanessa, Felicity, Aggie, Alyce, Kabelo, Lukas, Errol, Xander, Vince, Maria (sepie-wenner van dieselfde boereworskompetisie), Diederik, Marko, Paula en Mandla.
Verbruikers sal nie te lank hoef te wag voordat 2008 se wenwors op die rakke van Shoprite en Checkers verskyn nie, want dit sal by die vleismarkte van alle Shoprite-, Checkers en Checkers Hyperwinkels beskikbaar wees teen 15 Oktober.