Moontlike eiendomstekorte wag

‘n Moontlike tekort aan eiendomsvoorraad is aan die opbou, met omvattende gevolge vir eiendomswaardes en beleggingsopbrengste in die toekoms. Dié waarskuwing kom van Gerhard Kotzé, uitvoerende hoof van die ERA Suid-Afrika eiendomsgroep. Hy sê hoewel dit, gegewe die heersende marktoestande, moeilik mag wees om te glo, is daar vroeë aanduidings dat so ‘n situasie aan die ontwikkel is. “Verskeie faktore dra by tot die skepping van so ‘n toestand, insluitende die heersende oplewing in die huurmark, wat dui op opgehoopte vraag na eiendom indien ‘n mens aanvaar dat die meeste huurders sou verkies om self eiendom te besit maar deur hoë rentekoerse en ander faktore uit die mark gehou word. “Die feit dat sowat 50% van aansoeke om huislenings nou deur die groot banke afgekeur word, onderlê dié siening aangesien dit dui op gefrustreerde vraag selfs in die heersende swak ekonomiese klimaat. Die banke maak sake moeiliker vir kopers deur hulle uitleenkriteria strenger te maak maar in die proses skep hulle onbewustelik ‘n opeenhoping van vraag wat kan losbars wanneer rentekoerse daal en saketoestande verbeter. Hy sê ook dat hulle bewus is van gevalle waar eiendomsontwikkelings gekniehalter word deur gebrek aan elektrisiteit en die voorsiening van ander noodsaaklike dienste, en swak dienslewering deur die beplanningsafdelings van dorps- en stadsrade.
“Boonop het FNB onlangs berig dat werksaamhede in die woonsektor van die boubedryf in die tweede kwartaal ver onder verwagting was. “Nog ‘n aanwyser is dat slim beleggers glo ouer woonstelblokke in die tradisioneel middel- en boonste inkomste gebiede koop, opknap en uithuur. Hoewel dit die standaard van sulke eenhede verhoog, voeg dit niks toe aan die beskikbare behuisingsvoorraad nie. “Gelukkig is dit nie alles slegte nuus nie. Die eerste nuwe woonstelblok in Braamfontein in 50 jaar gaan na verwagting in November voltooi word, 133 eenmanwoonstelle word in Berea, Johannesburg, gebou en laekoste deeltitel-ontwikkelings maak in elke groot metropool ‘n buiging. “Dit bly egter ‘n kwelvraag of daar genoeg voorraad sal wees om aan die vraag te voldoen wanneer die eiendomsmark ‘n oplewing toon.”

Want to Receive Weekly Kwevoel Updates in Email?

We don’t spam! Read our privacy policy for more info.