Jongste leerlingvlieënier in die land
THABAZIMBI – Die jongste leerlingvlieëniers in die land, Chris Ehlers, het Donderdag 25 September sy leerling vlieënierslisensie op sy sestiende verjaarsdag ontvang. Dit het beteken dat hy vir die eerste keer solo kon vlieg.
Chris is ‘n graad 10 leerling van Neos Skool op Koedoeskop, en net soos die geval met sy pa, Gert, en oupa Chris van Koedoeskop, was vlieg van vroegs af in sy bloed. Hy het hierdie jaar vir vlieglesse by die Loutzavia Vliegskool op Wonderboom begin en het reeds 25 uur saam met ‘n vlieginstrukteur op sy kerfstok gehad voordat hy op sy eerste solo vlug kon gaan.
Chris se oupa, Chris Ehlers, is ‘n bekende boer in die Koedoeskop omgewing. Voordat hy geboer het was hy Thabazimbi se eerste verkeersbeampte en was ‘n bekende gesig in die dorp op sy BMW motorfiets, iets waarvoor hy steeds sy liefde behou het. Gedurende 1973 het hy sy privaatvlieënierslisensie verkry en die jaar daarna sy naggradering. Oor die jare heen het hy ‘n total van 1500 vliegure opgebou waarvan 70 nag-ure was. Hy het ook twee keer aan die Staatspresident Lugren deelgeneem.
Pa Gert het ook met mening ingeklim en in 1983 sy vastevlerklisensie, op die ouderdom van 21 jaar, gekry. In November 2000 kry hy ook sy helikopterlisensie en sy naggradering in 1991. Tans beskik hy oor 2800 vliegure op vastevlerk, waarvan 270 ure nagvlieg is, en 200 vliegure op die helikopter. Gert het ook agt keer aan die Staatspresident Lugren deelgeneem.
Chris moet nou net wag totdat hy 18 jaar oud is voordat hy kwalifiseer om sy privaat vliegtuiglisense te kan ontvang. Dit is duidelik dat sy kop in die wolke is en op hierdie oomblik oorweeg hy ‘n loopbaan as vlieënier sterk.