Stinkende gemors gou opgelos?
NORTHAM – Die Northam Boerevereniging het gedreig om die Groen Skerpioene, die nasionale omgewingswaghond, te nader oor die riooloorloop by die oksidasiedamme in Northam.
Op ‘n vergadering op 10 September het die Northam Boerevereniging besluit om van die foto’s van die riooloorloop, wat ook aan Die Kwêvoël verskaf is, aan die Munisipaliteit en Groen Skerpioene te stuur. Die Groen Skerpioene is ‘n nasionale waghond wat veg teen water- en lugbesoedeling.
Volgens ‘n verklaring van die Boerevereniging sal enigeen wat gebruik van die pad tussen Northam en Swartklip/Oppikoppi/Dwaalboom kan getuig van die “ongelooflike stank en rou riool wat ver ente langs die pad lê. Die riool sypel deur die ondergrondse water wat geboor word vir mens en dier. Dit hou ‘n groot gesondheidsgevaar in”.
Volgens die hoof van Tegniese Dienste by die Munisipaliteit, Cornelius Booysen, kan die oorloop toegeskryf word aan die geweldige toename in inwonergetalle van Northam.
‘n Vergadering is op 5 September met die Departement van Waterwese en Bosbou gehou oor die riooldilemma in Northam. Die Munisipaliteit erken dat die invloei die kapasiteit van die oksidasiedamme oorskrei, dat die damme onstabiel is, dat die walle swak is en breek en dat die inhoud gereeld oorspoel na die omliggende omgewing. Daar is ook residensiële uitbreidings in die vooruitsig wat nog groter druk op die oksidasiedamme plaas.
Booysen sê daar is twee korttermyn-oplossings in die vooruitsig.
Die eerste is om ‘n addisionele oksidasiedam te grawe. Daar bestaan tans ses oksidasiedamme en uitgrawings om ‘n sewende oksidasiedam te skep sal hopelik binne die komende week begin. Dit sal help om die oorvloei van riool tot teenaan die pad voorlopig help beheer.
Die tweede korttermynoplossing is die aanlê van ‘n pyp na die Swartklip-myn, waar die verwerkte water aangewend word in die mynproses. Dit sal die kapasiteitprobleem help verlig en help voorkom dat water oorspoel na die omliggende omgewing. Voordat die pyp aangelê kan word, moet daar ‘n permit deur Waterwese toegestaan word en ‘n omgewingsimpakstudie gedoen word wat eers deur die Departement van Omgewingsake goedgekeur moet word.
Die Munisipaliteit het Waterwese versoek, gesien die dringendheid van die probleem, om die administratiewe proses te versnel sodat die pypkonstruksie so gou as moontlik kan begin.
Op die langtermyn word ‘n nuwe rioolverwerkingsaanleg beoog sowat 2 km verder wes op die Swartklip-pad, maar aan die noordekant van die pad. Anglo Platinum het ingestem om ‘n derde van die onkoste te dra vir hierdie ontwikkeling en konstruksie sal, na verwagting, aan die einde van 2009 begin.