General

Dagga gevind

NORTHAM – Die Misdaadvoorkomingseenheid van die Northam Polisie het Maandagaand ‘n motor vol dagga in Smashblock gevind. Niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie.
Lede van die Northam se Misdaadvoorkomingseenheid het Maandagaand 22 September ‘n verdagte motor in Northam gesien en begin agtervolg. ‘n Jaagtog het ontstaan en die verdagte voertuig se bestuurder het tot in Smashblock gejaag, waar die insittendes uitgespring en in die bosse verdwyn het. Hulle kon nog nie opgespoor word nie.
Die motor is deur die polisie ondersoek en ongeveer twintig sakke dagga van altesaam 80kg is in die kattebak en in die motor gevind. Die waarde is ongeveer R40 000.
Die voertuig,wat nie as gesteel aangemeld is nie, is tans by die polisie in Northam.