Skoonhede by Setaria
SETARIA – Die Mej Setaria-skoonheidskompetisie wat onlangs aangebied is deur, en ten bate van, die Barney Kleuterskool in Setaria, het groot belangstelling gelok uit plaaslike geledere. Die kroning op Saterdag 30 Augustus het sowat 200 gaste gelok na die Ontspanningsaal op Setaria.
Juroné Pretorius is gekroon as Mej Setaria 2008, Mariska Meyer as 1ste Prinses en Chané Mac Vay as 2de Prinses.
Elizma Thomas was gekroon as Mej Debutante (die finalis wat die meeste geld ingesamel het), Angie Jansen as Mej Persoonlikheid en Jean-Mari van der Veen as Mej Fotogenies.
Die 12 finaliste het vir twee maande elke Saterdag hard gewerk om hulle beste te lyk op die aand van die kroning. Julandi Mac Vay Modelagentskap het die choreografie vir die aand behartig. Orelia Pretorius het die finaliste ‘n paar danslesse gegee en die “western cowboy”-dans wat tydens die kroning opgevoer is, het die gaste baie beïndruk.
Die beoordelaars was At van Niekerk (TSD Bestuurder), Willem Calitz (Produksie bestuurder), Roland Dressels (HR Bestuurder), almal verbonde aan Northam Platinum Myn, Elreze Albert (Mej Junior Heelal) en Suzette Nel (B-Xclusive Modelagentskap).