Rooi Brahman vers beste op skou
THABAZIMBI – Johan Prinsloo van die plaas Paarl in Thabazimbi is by die onlangse Internasionale Brahman Kampioenskappe aangewys as die Teler van Kampioene (Rooi Brahmane), ‘n toekenning wat slegs een maal elke vier jaar gemaak word.
Een van sy verse is aangewys as Raskampioen wat haar die wenner gemaak het onder die senior vroulike Rooi Brahmane by dié vierjaarlikse Pretoriase skou. Hierna is sy egter ook as Opperste Kampioen aangewys wat haar die wenner onder die kalwers, juniors, seniors, manlike en vroulike diere maak van die Rooi Brahmane.
Vir die toekenning van Teler van Kampioene het Prinsloo ‘n groen-en-goud baadjie ontvang met ‘n spesiale embleem daarop. Hy sal hierdie titel vir die volgende vier jaar dra.
Na aanleiding van die aantal inskrywings kan hierdie skou as die grootste vleisbeeskou vanjaar beskryf word. Daar was 45 vertoners en amper 500 inskrywings. Afgesien van ‘n groot aantal Suid-Afrikaanse toeskouers was daar ook boere van Namibië, Botswana en Zimbabwe wat die skou bygewoon het.
Oor die wenvers het ‘n beoordelaar gesê dat sy ‘n “waardige voorbeeld van ‘n uitstaande vroulike dier is met fantastiese lengte, goed gevul, hoogstaande kwaliteit, struktureel korrek met baie netjiese uier”.