General

Boere en beeste ly onder brande

DWAALBOOM – ‘n Veldbrand wat oor 13 plase beweeg het en heelwat beeste en wild doodgebrand het, het Woensdag 10 September in die Dwaalboom-area gewoed.
Leendert Joubert, ‘n deeltydse boer van die plaas Smithfield, het 46 van sy 120 beeste en al sy weiding, sowat 1100 ha, verloor. ‘n Rondawel met grasdak het naby sy huis afgebrand en meeste van die drade op die plaas moet vervang word. Hy beskou homself as gelukkig omdat hy ‘n plaas in Makoppa het waarheen sy beeste verskuif kon word vir  weiding.
Nog ‘n boer, Emelia Cronjé van die plase Goedgedacht, Loggerendehoek en Noordbrabant, het al die weiding op al drie haar plase, sowat 4 000 ha, verloor in die brand. Sy het tussen 12 en 15 beeste verloor en baie wild. Die afgelope Woensdag het Emelia 30 van haar beeste verkoop, en sommige is verskuif na haar oom se plaas.
Op een van die drie plase is al die wild dood, vertel Emelia. Daar het sommer troppe dooie koedoes, rooibokke en blouwildebeeste bymekaar gelê. Hoewel hulle die drade op verskeie plekke gesny het, kon die wild nie ontsnap nie as gevolg van die wind wat gedraai en die rigting van die vuur verander het.
Daar het ook op een plaas ‘n huis en rondawel gebrand, maar gelukkig kon haar jagkamp gered word, sê Emelia. Die PPC brandwa, sowel as die Thabazimbiese brandweer het die vlamme probeer stuit. Sy skat dat een plaas binne ‘n uur afgebrand het.
Hoewel haar woonhuis gered is, het sy geen water, krag of telefoonverbinding, omdat al die kabels en pype gebrand het. Op sommige plekke het waterpype aanmekaar gesmelt onder die grond as gevolg van die hitte. Haar watertenk het ook gebrand. Op een stadium was die vlamme 7 of 8 meter hoog en bo-oor die dak van haar huis.
Volgens Danie van Vuuren, voorsitter van die Boerevereniging in Dwaalboom het hulle opnames getoon dat sowat 18 000 ha weiding afgebrand het. Deur die DLU (Distriks Landbou Unie) word daar tans om hulp aansoek gedoen by die Departement van Landbou. Volgens Van Vuuren hoop hulle om voer vir die beeste in die areas wat geraak is, te kry.
Daar word nog deur die polisie ondersoek ingestel na die oorsaak van die brand.