Sport

Tennisspelers vaar goed by Limpopo kampioenskappe

THABAZIMBI – Vyf Thabazimbiese tennisspelers het van 20 tot 31 Augustus aan die geslote Limpopo Veterane Tenniskampioenskappe in Potgietersrus deelgeneem en al vyf is in die Limpopo-span opgeneem.
Ten spyte van die wind wat met tye stormsterk gewaai het en erge dwarrels gemaak het wat spel baie bemoeilik het, het die Thaba spelers baie goed gevaar.
Frans Barnard het tweede geëindig in die 30+ ouderdomsgroep en Johan Barnard derde in dieselfde afdeling.
Leonie Minnaar het tweede geëindig in die 40+ groep. In die gemengde dubbels het sy en haar spelmaat uitgeval in die finaal. Sy wen egter ook die dames dubbels saam met Ilse de Beer van Nylstroom.
In die 50+ ouderdomsgroep eindig Theunis Lee derde en verloor in die finaal van die Mans Dubbels. Ann Barnard eindig tweede in die 55+ groep en wen die gemengde dubbels saam met Sakkie Theron van Pietersburg.
Aangesien elke ouderdomsgroep drie mans en drie dames tot die Limpopo-span verkies het, is al vyf die Thabazimbi spelers in die Limpopo-spanne opgeneem. Leonie Minnaar (40+) en  Theunis Lee (50+) is aangewys as kapteine van hul onderskeie spanne.
Sosiale tennis word op Woensdag- en Saterdagmiddae gespeel by Thaba Park. Almal is welkom.