General

Munisipale Eiendomsbelasting en Waardasies

THABAZIMBI – Die inwoners van Thabazimbi Munisipale gebied word weereens versoek om kennis te neem van die ooreenkoms wat met die Thabazimbi Munisipaliteit bereik is ten opsigte van eiendomsbelasting sowel as die waardasies van eiendom. Hierdie ooreenkoms geld vir alle residensiële, nywerheids- sowel as landbougrond binne die Thabazimbi gebied.
Op 31 Julie 2008 het die Thabazimbi Voorsitters Forum `n vergadering met die Thabazimbi burgemeester, sommige raadslede en munisipale amptenare gehad oor die uiters hoë belastingtarief wat die Munisipale Raad goedgekeur het vir implementering vanaf 1 Julie 2008.
Tydens hierdie vergadering kon geen ooreenkoms bereik word ten opsigte van die belastingtarief nie. Waaroor wel ooreengekom is, is die hersiening van die waardasierol en voorlopige betaling vanaf 1 Julie 2008 van eiendomsbelasting. Belastingbetalers moet daarop let dat die Munisipaliteit vanaf 1 Julie 2008 eiendomsbelasting hef op die totale markwaarde van die eiendom, met `n waardasie wat gebaseer is op die opemark prys van die eiendom.
Die ooreenkoms met die Munisipaliteit maak voorsiening vir die verlenging van tyd om beswaar aan te teken oor die waardasierol en munisipale belastingbeleid en die voorlopige betaling van ou tariewe.
Die waardasie rol is die vertrekpunt vir berekening van eiendomsbelasting, omdat dit bereken word volgens die huidige markwaarde van die eiendom. Verskeie probleme het opgeduik met die waardasierol wat deur die Munisipaliteit gebruik is vir die berekening van eiendomsbelasting.
Inwoners word weereens die geleentheid gebied om besware in te dien indien hulle gegrief is oor die waardasie van hulle eiendom. Dieselfde toegewings is van toepassing op eiendom wat nie gelys is nie. Hierdie vergunning geld tot en met 30 September 2008. Na verstryking van dié datum, sal geen verdere besware ontvang word nie. Sodra die Waardeerder die besware afgehandel het, sal die waardasierol gefinalisieer word vir berekening van eiendomsbelasting, soos met ingang 1 Julie 2008.
Die waardasierol is beskikbaar by die munisipale kantore vir inspeksie. Besware moet ook by hierdie kantoor ingehandig word.
Die eiendomsbelastingrekenings wat deur die Munisipaliteit uitgestuur is aan inwoners, met ingang 1 Julie 2008, is foutief bereken. Hierdie rekenings kan geïgnoreer word. Die ooreenkoms wat met die Munisipaliteit maak voorsiening dat inwoners die bedrag ignoreer wat op die rekening voorkom. Die belasting wat wel betaal moet word, is die belasting soos dit van toepassing was tot en met 30 Junie 2008(dieselfde as wat in Junie 2008 betaal is). Hierdie reëling sal geld tot en met die finalisiering van die waardasierol.
Inwoners moet daarop let dat as gevolg van die veranderde basis van die berekening van eiendomsbelasting (op markwaarde in plaas van grondwaarde), die belasting wat betaal moet word sal verskil. Oor die algemeen behoort dit min of meer dieselfde te bly vir woonhuise in die gemiddelde prysklas. Op luukse woonhuise mag dit aansienlik hoër wees, en inwoners van hierdie eiendom moet daarop bedag wees.
Die Thabazimbi Voorsitters Forum versoek inwoners ernstig om seker te maak dat die waardasie van hulle eiendom, om te bepaal of hulle gemaklik is met die waarde van hulle eiendom. ‘n Riglyn wat hiervoor kan dien is die vergelyking van die waarde van een eiendom op die waardasierol met ‘n soortgelyke eiendom se waarde op die rol. Indien ‘n beswaar ingedien word, maak seker dat `n bewys ontvang word van die inhandiging van die beswaar. Dit is belangrik om te onthou dat hierdie vergunning geld net tot 30 Septemeber 2008.