Jong krieketspelers maak skoonskip
THABAZIMBI – Die o/15 krieketspan van Hoërskool Frikkie Meyer het met hul oorwinning van 252 lopies oor Hoërskool Piet Potgieter die afgelope naweek as ligawenners uit die krieketstryd getree. Hulle het geen wedstryde die hele seisoen verloor nie en speel Saterdag in die semifinaal.
HFM het eerste gekolf en ‘n reusetotaal van 363 lopies aangeteken in 40 boulbeurte. Die beste kolwers was Muller Lategan met 92 lopies, Juandré du Toit met 76 lopies en Hanno Fourie met 72 lopies.
Piet Potgieter word uitgeboul vir 111 lopies. Die beste boulers was Reinhardt Luüs wat 4 paaltjies vir 38 lopies geneem het in 8 beurte en JJ Els wat 3 paaltjies vir 27 lopies in 4 boulbeurte ingepalm het.
In hul wedstryd die vorige Saterdag teen Hoërskool Warmbad is die teenstanders vir slegs 62 lopies uitgehaal. In hul beurt het HFM geen paaltjies laat kantel nie en wen hulle die wedstryd met 10 paaltjies.
In hul wedstryd teen Hoërskool Piet Potgieter het die eerste span van HFM gelykop gespeel.
HFM is ingestuur om eerste te kolf. Op ‘n moeilike kolfblad en teen die uitstekende boulwerk van Potties, teken HFM maar slegs 113 lopies aan. Die beste kolwers was Shaun Payne met 18 lopies en Marko Benade met 17 lopies.
In hul kolfbeurt het Potties ook 113 lopies aangeteken met nog 2 paaltjies staande, maar Reghard Hefer neem toe die laaste 2 paaltjies sonder om nog lopies af te staan. Die wedstryd eindig dus gelykop met 113 lopies elk.
Die beste boulers was Reghard Hefer wat 3 paaltjies laat kantel in vier beurte met die verlies van 11 lopies en Arné Cilliers wat 2 paaltjies neem in 3 beurte, met 12 lopies wat afgestaan is.