General

Inligtingsdag vir boere

SENTRUM – Die De Wildt Cheetah Project in samewerking met die Sentrum Boerevereniging bied ‘n Boere Inligtingsdag aan op Woensdag 24 September by die Sentrum Veilingskrale. Die program begin om 09:00.
Die hoofspreker is dr Gerhard Verdoorn, roofvoël-ekspert en kenner op die gebied van kunsmatige giwwe en hul uitwerking op die omgewing. Daar vind ook ‘n bespreking oor die nuwe TOPS-wette plaas, wat veral eienaars van jagplase en professionele jagters raak.
Die De Wildt Cheetah Project sal die boere toespreek oor navorsing wat gedoen is op die gebied van jagluiperde, bruin hiënas en luiperde. Die rol van Anatoliese waghonde in die beheer van probleemdiere word ook bespreek.
Die intensiewe teel van wild, die beheer van parasiete op wild en wetgewing met betrekking tot veld- en bosbrande is van die ander onderwerpe wat by die inligtingsdag onder bespreking is.
Saam met die program wat vir die boere aangebied word, is daar ‘n bewaringsopvoedings-werkwinkel vir kinders wat deur die De Wildt Outreach Education Programme aangebied word.
Na afloop van die dag word ‘n geborgde braai aangebied en ‘n trekking met “fantastiese pryse”.
Hoewel daar geen koste verbonde aan is nie, is dit belangrik dat almal wat belangstel, beide boere en kinders wat die dag wil bywoon, vir Petru Viljoen by 073 684 5336 laat weet hoeveel mense die dag sal bywoon. Besprekings kan ook per e-pos by jcviljoen@worldonline.co.za gedoen word.