Sport

Goeie opkoms by slagspel

THABAZIMBI – Die “American Scramble” slagspel wat verlede Saterdag deur die nuwe wakker komitee van Thabazimbi Gholfklub geborg is, was ‘n reuse sukses. 68 spelers het die dag gespeel, wat werklik ‘n groot prestasie was.
Met 55 houe word die dag gewen deur Ettiene le Roux, Barend Gerber, Hekkie Gerber en M Bezien. Tweede was vier bekende besoekers, te wete Corrie Sanders, Corrie Pypers, Anton du Preez en Fanie Lombard met 56. Derde plek ook op 56 was Billy Pring, Johan Barnard, Anton en Hannetjie Peschl.
Christo en Jeanetta Rall was van vroeg af besig om wors te braai vir die worsbroodjies wat halfweg beskikbaar was. Dan is daar die aand heerlik gebraai en gekuier. Baie dankie aan almal wat bygedra het om die dag so’n sukses te maak, organiseerders en spelers.
Die baan is tans steeds in ‘n puik toestand. Daar is ook reeds begin om die oefenbaan se bof voor te berei van waar Esmé Behrens haar Gholf Akademie gaan bedryf. Die nuwe kroeg is ook byna gereed en gaan ‘n groot verbetering vir die klub wees. Dr Willem du Plessis, die dryfveer agter die projek, het reeds baie van sy vrye tyd hier bestee.
Een van die klublede, Maggie Hoffman, se vader is verlede week oorlede. Die klub wil haar en die familie verseker van hul opregte meegevoel en bid hulle troos en krag toe. Pietie Terblanche het ook verlede week ‘n rugoperasie ondergaan en ons verneem dat dit goed gaan. Sterkte ook aan hom en ons hoop om hom spoedig weer op die baan te sien.