Dis die seisoen vir bome plant
THABAZIMBI – Verlede week, tradisioneel die eerste week in September, was Boomplantweek en die provinsiale Minister van Waterwese en Bosbou moedig almal aan om bome hierdie tyd van die jaar te plant.
Die tema hierdie jaar vir Boomplantweek is “Plant bome – red ons planeet” en hierdie boomplantseisoen is ingelei toe bome geplant is in die nuutgestigte Skierlek Plakkerskamp by Belabela deur die provinsiale Minister van Landbou op 2 September.
Volgens die Dept van Waterwese en Bosbou hoop hulle dat die voorbeeld gevolg sal word deur ander Nie Regeringsorganisasies, skole en gemeenskappe.
Verlede jaar is die “Plant ‘n miljoen bome”-veldtog deur president Thabo Mbeki geloods waarin mense aangemoedig word om bome te plant vir voedsel. Sedertdien is reeds meer as 681 000 bome, waarvan 33 107 in Limpopo, geplant. Die veldtog is daarop gemik om die land se landskap te verander.
Die doelwitte van Boomplantweek is, onder andere, om kennis van veral inheemse bome en hul belangrikheid te bevorder en om Suid-Afrika groener te maak deur die plant van bome.