Bosveld leer meer oor wynversnyding

THABAZIMBI – Wynliefhebbers het onlangs die geleentheid gehad om meer oor die versnyding van wyne te leer.
Die aanbieding is deur Douglas Green Wynmakery by Philmari gastehuis net buite Thabazimbi aangebied. Pieter Terblanche, Bemarkingsbestuurder van Douglas Green, het die aanbieding hanteer en daarmee saam die bosvelders meer geleer van wyne soos Chardonnay, Sauvignon Blanc, Merlot, Pinotage en Shiraz.
Douglas Green het reeds in 1935 hulle op Wellington in die Kaap gevestig en wyne by verskillende wynkelders gekoop om hulle eie versnydings te maak. Op  hierdie manier kon hulle jaarlikse wyne aan die mark verskaf waar elke versnyding sy unieke karakter van vorige versnydings behou het. Die gebruiker kon dus altyd staatmaak dat hy die volgende jaar weer sy gunsteling wyn op die rak sou kry.
Soos die wynkultuur in die Kaap meer ontwikkel het, het Douglas Green begin om sekere wynmakers te kontrakteur om aan hulle ‘n spesifieke wyn te verskaf. Hierdie wyne word volgens spesifieke voorskrifte gemaak en dan na Wellington geneem waar dit versny word.
Hierdie versnydings word hoofsaaklik (80%) in supermarkte verkoop waar die meeste kopers van die vroulike geslag is. Van al hierdie wyne word slegs 17% in Suid-Afrika verkoop, die res word in die buiteland versprei.
Saam met die bekende handelsnaam van Douglas Green het die prys van hul wyne ook gegroei. Daar is goedkoper versnydings wat ook deur hulle bemark word, soos Tallhorse wat as teenvoeter vir die Australiese goedkoper wyne vervaardig word. Die Australiese ekwivalent, wat vir die Amerikaanse mark ontwikkel is, het daar nie so goed gevaar nie en het hulle besluit om dit in Suid-Afrika te bemark waar dit baie gewild geword het.
Tydens die wynproe kon gaste die verskille tussen Douglas Green en Tallhorse ervaar en elkeen kon sy eie opinie omtrent hierdie wyne vorm. ‘n Belangrike gevolgtrekking was dat ‘n wyn nie noodwendig duur hoef te wees om in jou smaak te val nie. Drink die wyn wat jy die meeste geniet en as jy ys wil bygooi, doen dit gerus. Die een ding wat die ys doen is om die tantieme in die wyn, wat vir baie mense te sterk in die kiewe voel, te verlaag en die wyn beter te geniet.
Die regte bedieningstemperatuur vir rooiwyne is tussen 16 en 18 grade Celsius en nie soos algemeen in Suid-Afrika aanvaar word, warm kamer temperatuur nie. In die bosveld gaan dit menigmaal oor die 30 grade. Sit  daardie rooiwyn gerus maar in die yskas voordat jy dit aan jou gaste bedien of in jou restaurant verkoop.

Want to Receive Weekly Kwevoel Updates in Email?

We don’t spam! Read our privacy policy for more info.