Entertainment

Vrouedag bied ‘n vroue slagspelwenner

THABAZIMBI – Soos dit paslik is het die mans toegelaat (sic) dat ‘n vrou op Vrouedag die Maandelikse Slagspel wen. Marina van der Wateren was eerste met ‘n net 69. Bernie Gous (71), Johan Smit en Charlie Penzhorn, albei op 72 was die ander wenners. Geluk julle almal.
Die opknapping van die kroeg-area behoort hierdie maand afgehandel te word. Dit kos egter heelwat om alles reg te kry. Om te help om die koste te dek gaan die Komitee op Saterdag 16 Augustus ‘n spesiale borgdag aanbied. Elke lid wat van die nuwe geriewe gaan gebruik maak in die toekoms behoort die dag te ondersteun. Dit formaat gaan Indiwiduele Punte Stableford (IPS) wees, maar spelers kan in pare inskryf. Pare sal dan getrek word.
So ook behoort elke lid Woensdag 20 Augustus se Pick’n Pay Sundowner en die Algemene Vergadering daarna by te woon. Dit is so hartseer om elke jaar net dieselfde getroue paar lede daar te sien. Die klub behoort aan al die lede en almal moet deel wees aan die besluite wat op so ‘n vergadering geneem word. Daar is veral baie nuwe idees in die pyplyn vir die volgende jaar waarvan die lede moet weet. As u nie die middag kan speel nie doen dan die bietjie moeite en kom so teen 18:00 en woon  die vergadering by.
Saterdag 23 Augustus word daar ‘n “Foursomes” kampioenskap gespeel. Die kompetisie strek oor 27 putjies. Skryf in pare in. Elke paar slaan om die beurt van elke bof af en speel dan ook om die beurt tot in die putjie. Dit is ‘n kompetisie wat goeie vriendskappe tydelik kan verstewig of sink. Gelukkig hou die gevoelens net tot so na die eerste drankie. Saterdag 30 Augustus is dit weer IPS. Onthou ook maar die Pick n Pay Sundowner wat elke Woensdagmiddag gespeel word. Daar word nou weer oor 9 putjies gespeel.