Skou stop nie vissermanne nie
SETARIA – Die Northam Platinum Hengelklub se maandelikse kompetisie was die afgelope naweek by die Konsentratordam. Altesaam 474 vis is gevang.
Die kompetisie het begin op Saterdag 2 Augustus om 12h00 en ten einde geloop op Sondag 3 Augustus om 12h00. Ten spyte van die skou het daar altesaam 46 hengelaars deelgeneem en is ‘n totaal van 474 vis gevang met ‘n gewig van 312kg.
In dié kompetisie was die wenners diegene wat die grootste spesie kon uittrek. Die eerste prys was vir die grootste barber, die tweede prys vir die grootste karp en die derde prys vir die grootste kurper. Die wenners van die grootste spesies word in vier afdelings aangewys, naamlik seniors, dames, juniors en penkoppe. In ander kompetisies word wenners bepaal op grond van die swaarste sak, met ander woorde wie die meeste vis vang.
Die Northam Plats Hengelklub spog al met byne 200 betalende lede en hul nuutste toevoeging is Elna Retief, bestuurder van Thabazimbi Lubners. Met groot toewyding het Elna Saterdagmiddag haar stokke reggemaak, die aas sorgvuldig voorberei en aan die hoek gesit. Toe begin sy hengel…
Sy het haar stok “gelooi” tot daar waar sy gedink het die menere wei. Groot was haar verbasing toe sy omdraai en haar katrol sínggggg agter haar rug. Só het Elna haar eerste kompetisie by Northam Plats Hengel goed begin en sommer dadelik haar eerste karp geland.
Elna se man, Kenny, moes die res van die naweek van sy viskas afstand doen, want Elna was op die hengel uit. Met moederlike besorgdheid het sy haar net elke 10 minute besoek om te sien dat haar viskroos nog lewe en darem nog “okay” is. Sy was so hartseer toe sy haar vis Sondag ná die inweeg weer moes vrylaat dat sy hom met ‘n behoorlike soen vaarwel toegewens het.