Skou 2008 lok byna 10 000 besoekers
THABAZIMBI – Na ‘n week van nabetragting en agteroor sit om die voete te laat herstel, kan almal wat deel gehad het aan vanjaar se skou-reëlings lekker terugsit en terugkyk na ‘n baie suksesvolle Thabazimbi Skou.
Almal wat deel was van die organisering en reëlings kan hulself op die skouer klop. Daar was so baie uitstallers dat twee van die mure in die ou biertuin platgeslaan is om plek te maak vir al die uitstallers.
Nie alleen was dit die eerste keer in die geskiedenis van Thabazimbi Skou dat daar soveel bekende kunstenaars opgetree het nie, maar ook vir die eerste keer in die geskiedenis was die toue by die hekke so lank dat daar net stempels uitgedeel was sonder om kaartjies uit te reik om die publiek so spoedig moontlik binne te kry.
Thabazimbi Skou se reëlingkomitee bedank al die kunstenaars wat met uitmuntende vertonings hulle deel bygedra het om vanjaar se skou ‘n reusesukses te maak. Jaco Labuschagne, Lianie May, Clive Bruce, Billy Forrest, Tommy Oliver, Barbara Ray, Bobby Angel, Rudi Meiring, NKD en Munro het voorwaar voortreflike vertonings gelewer.
En die plaaslike kunstenaars soos Nelri Benadé, Rainier le Roux, Lené Campher, Jesse Verena en Victor van Wyk van Radio Bosveld hoef vir niemand agteruit te staan nie. Daar was ook Ursula Viviers en Marachelle Steyn van Ellisras en Marachelle se nefie wat amper R1000 ingesamel het vir Huis Immergroen met sy weergawe van “De La Rey”.
Op Donderdag, die dag wat tradisioneel die stil dag van die skou was, het daar reeds meer as die helfte van verlede jaar se totale voete deur die hekke beweeg. In die loop van Vrydag is verlede jaar se besoekerstal verbygesteek en Saterdag se besoekers was ‘n bonus.
Weens die feit dat pensioenarisse gedurende Donderdagoggend gratis die skou kon besoek en daar dus geen kaartjies aan hulle uitgereik is nie, kan met benadering gesê word dat daar so byna 10 000 besoekers vanjaar die Thabazimbi Skou besoek het.
Aanvanklik was die skoukomitee baie ongelukkig oor die jongmense wat byna al die plakkate van die kunstenaars van die pale verwyder het, veral in Dertiende laan, maar dit was ook ‘n bedekte boodskap aan die komitee dat die kunstenaars wat die skou besoek het baie gewild is onder die jongklomp.
In die vervolg kan plakkate by die skoukomitee verkry word na afloop van die vertoning, verseker die skoukomitee. Anders kom van die pogings om te adverteer nie veel nie, en kunstenaars voel dat hulle afgeskeep word.
Die Idols kompetisie was een van die hoogtepunte van die skou. Strawwe kompetisie het geheers in drie van die vier afdelings, maar ongelukkig was daar geen inskrywings in die o/10-kategorie nie.
Bealdé Enslin het koning gekraai in die o/16-ouderdomsgroep en Ursula Roux van Ellisras was die wenner van die onder 21’s. Rainier le Roux van Thabazimbi het die ope afdeling gewen en so gewys dat hy nie net uitblink in karate nie, maar kan ook sing.
Die beoordelaars moes goed kopkrap om ‘n wenner te kry vir die boerpotprys. Hier het Rainier dan net met ‘n kortkop gewen en die opnamekontrak gewen. Rainier het dan ook besluit om dié geleentheid te gebruik om sy debuut-album vry te stel. Vanjaar se skou het weer gespog met ‘n uitmuntende keuse van stalletjies en uitstallers. Ongeveer sewentig klein stalletjies kon besoek word, asook dertig groot industriële- en landbou-uitstallers. Al die uitstallers was baie tevrede met die opkoms en het Thabazimbi bedank vir hul gasvryheid en ondersteuning. So byvoorbeeld moes Land Rover die hele skou uitstal sonder een van hul spesialisvoertuie wat al Donderdagoggend opgeraap is.