Restourasie versterk Woodstock mark

Die Woodstock-gebied in Kaapstad, een van die stad se oudste woonbuurte, geniet ‘n herlewing danksy restoureer-werk in die omgewing.
ERA Woodstock se Kotze Ellis sê die gebied ondergaan ‘n vernuwing danksy nuwe beleggers wat daarheen stroom om munt uit die moontlikhede wat die mark inhou, te slaan.
“Daar is skaars ‘n straat in Woodstock waar jy nog ‘n huis gaan raakloop wat opgeknap moet word. Terselfdertyd moet alle opknappings deur die Erfenisraad goedgekeur word, wat meegebring het dat die atmosfeer van die gebied behou is.
“Wat bekostigbaarheid betref moet ‘n mens daarop wys dat vergelykbare eiendom elders in Kaapstad sowat R2m kos. Tot so twee of drie jaar gelede kon sulke eiendom in Woodstock nog teen sowat R700 000 gekoop word.
Woodstock se pryse het sedertdien gestyg en dieselfde eiendom kos nou in die omgewing van R1m. Daar is egter steeds vooruitsigte vir groei in waardes aangesien nuwe belegging in die gebied gemaak word en die nuus versprei dat daar goeie eiendomskopies is.
Die buurt se groot aantrekkingskrag is die dorpsatmosfeer wat deur die eiesoortige huise, boomryke strate en ‘n geskiedkundige atmosfeer uit Kaapstad se vervloë dae versterk word. Die gebied is binne loopafstand van die Kaapse middestad en bied ook gerieflike togang na alle windrigtings danksy die oostelike boulevard en ander hoofroetes.
“Eiendom aan die bokant van Roodebloemweg het boonop sakeregte en dit het ontluik in ‘n winkelgebied met koffiekroeë, kroegies waar skemerkelkies geniet kan word, en nutswinkels in private besit, wat verder tot die buurt se sypaadjiekultuur bydra.
Ellis sê dit is merwaardig dat nuwe belegging gebruik word vir opknapping eerder as sloping. “Ook is daar baie min onontwikkelde grond in private besit in die gebied. Die gevolg van al dié faktore is ‘n tekort aan eiendom en alles dui daarop dat waardes gaan aanhou styg.”

Want to Receive Weekly Kwevoel Updates in Email?

We don’t spam! Read our privacy policy for more info.