Plaaslike perdekompetisie lok baie
THABAZIMBI – Die plaaslike perdespring- en dresseerkompetisie wat op Saterdag 26 Julie by Arwin Equestria op Kwaggasvlakte gehou is, het 105 inskrywings gelok en was ‘n reuse sukses.
Deelnemers van Thabazimbi, Northam, Koedoeskop, Warmbad, Makoppa, Vaalwater en Ellisras het ingeskryf. Veral die aantal deelnemers in die Dresseer-afdeling, nl 22, was ‘n groot verrassing vir die organiseerders aangesien Dresseer nie gewoonlik groot aftrek kry in hierdie area nie.
Nie alleen was die opkoms baie goed nie, maar die weer het ook saamgespeel en die borge het ook die verrigtinge bygewoon en geniet.
In die Perdespring-afdeling (70 – 80cm) was Suné van Tonder eerste op Jolly Joker (tyd: 27,69sek), tweede was dit Melissa de Beer op Oppressor in 34,25sek en derde was Tanita Janse van Vuuren op Grey Fantasy (30,40sek).
In die 80 – 90cm afdeling was Roelien Roets op Corn Time eerste in 33sek en Melissa de Beer op Oppressor tweede in 33,09sek.
In Klas 5 (90cm – 1m) was Lindie de Beer op Wairwolf eerste in 44,72sek en Yolande Pretorius tweede op Red Ivory in 46,44sek.
Tydens die Accumulator-afdeling was Liandi Pienaar op Solar Princess eerste in 44,25sek, Suzette de Villiers op Abidan tweede in 50,22sek, Kimberley Anderson op Oreo derde in 50,75sek en Tanita van J van Vuuren op Grey Fantasy vierde in 53,00sek. Hulle het almal 36 punte versamel.
In die Accumulator met Joker-afdeling was Suné van Tonder op Jolly Joker eerste in 39,03sek, Tanita J van Vuuren op Grey Fantasy tweede in 39,78 sek en Liandi Pienaar op Solar Princess derde in 40,38sek. Hulle het almal 44 punte versamel.
In die Pre Novice Accumulator met Joker-afdeling was Roelien Roets op Corn Time eerste in 43,84sek en Gerald Burger op Mango.com tweede in 47,47sek. Beide het 44 punte versamel.
Die wenner van die Novice Accumulator met Joker-afdeling was Roelien Roets op Corn Time in 45,85sek en Melissa de Beer op Oppressor was tweede in 64,85sek.
Die Kampioenskap is gewen deur Yolanda Pretorius op Red Ivory in 47,63sek en Lindie de Beer op Wairwolf was tweede in 46,72sek. Hulle is dan gesamentlik as Victrix Ludorum aangewys.
In die Dresseer-Klas 13-afdeling was Hannes van der Walt op Cola Tonic die wenner. In Klas 19 was Nina Yoo Pedersen (Berbon Stables, Bela-Bela) op Twilight die wenner met 66,9%, Bernedene Koorts op Rizky Buiznez tweede met 58,4%, Nina Yoo Pederson op Zulu derde met 56,9% en Tanita J van Vuuren op Thorney vierde met 56,2%.
In die Klas 20-afdeling was Nina Yoo Pederson eerste met 63,7% en sy is ook tweede op Zulu met 60,6%. Tanita J van Vuuren is derde op Thorney met 57% en vierde op Fairy Flight met 51,5%.
Nina Yoo Pederson met Twilight is aangewys as die Victrix Ludorum vir die Dresseer-afdeling.