General

HFM krieketspanne vaar goed teen Settlers

THABAZIMBI – Beide die o/15A en eerste krieketspan van Hoërskool Frikkie Meyer het hul wedstryde teen Hoërskool Settlers gewen die afgelope week.
Die o/15A-krieketspan vertoon goed in die liga na hul derde wedstryd. In hul wedstryd teen Settlers het hulle die opponente beperk tot 73 lopies. Die o/15’s steek hierdie telling verby reeds in die 12e beurt.
Die beste bouler was Gert Hefer wat 5 paaltjies laat kantel het vir net 23 lopies in 7 boulbeurte en Hanno Fourie het die beste met die kolf gevaar. Hy teken 20 lopies aan sonder om sy paaltjie te verloor.
In hul wedstryd het die eerste span die loot teen Settlers gewen en besluit om eerste te kolf. HFM teken ‘n enorme 266 lopies aan in 32 beurte. Reghard Hefer teken 127 lopies aan en Le Roux Bodenstein 35 lopies. Settlers word uitgehaal  vir net 166 lopies in die 34ste beurt en die Frikkies wen dan met 100 lopies.  Boulers Jan Beyers neem 4 paaltjies in 10 balle en Juan Brits 3 paaltjies in 30 balle.