Grondeienaar moet Brandwet ken
THABAZIMBI – Boere sal daarby baat om lid van ‘n Brandbeskermingsvereniging te wees en die brandwet te ken, want dit mag hulle help beskerm wanneer eise teen hulle ingestel word ingeval van ‘n brand.
Indien ‘n brand van Boer A na Boer B se plaas versprei, kan Boer B ‘n eis teen Boer A instel. Indien Boer A egter lid van ‘n plaaslike brandbeskermingsvereniging is, rus die bewyslas op Boer B om Boer A se skuld te bewys. Indien Boer A nie aan die Brandbeskermingsvereniging behoort nie, rus die bewyslas op Boer A om sy onskuld te bewys.
Sodra die Wet op Veld- en Bosbrande ten volle in werking gestel is, sal areas geïdentifiseer word wat groter brandgevaarrisikos inhou as ander. Inligting oor hoe brandgevaar gemeet word en waarskuwingstelsels sal gepubliseer word.
Die Wet vereis dat die Minister die hele land in brandgevaarstreke moet indeel. Vir die gradering word kenmerke soos topografie, plantegroei, seisoenale klimaatsiklus, tipiese weersomstandighede en voorspelde weersomstandighede in ag geneem.
Herman Barnard, skakelpersoon by Thabazimbi se Brandbeskermingsvereniging nooi lede van die plaaslike TFPA (Thabazimbi Fire Protection Association) lede uit na die Algemene Jaarvergadering op Woensdag 27 Augustus om 15:00 in die Kumba Bioskoopsaal. Vir navrae kan hy geskakel word by 014 772 2628 of 082 335 6441.