Laerskool leerders presteer op alle vlakke
THABAZIMBI-Leerlinge van Laerskool Thabazimbi behaal prestasies op alle vlakke.
Brigite Brand het onlangs haar Unisa graad 2 klavier eksamen met 80% geslaag. Sy het ook haar graad 2 klavier duet-eksamen geslaag met 76%, sy behaal 100% vir haar voorgraads 1 teorie eksamen. Baie geluk aan die jong pianis, die skool is trots op jou.
Met die hokkie het dit goed gegaan. Hulle het verlede Donderdag na Warmbad gereis om liga wedstryde te speel. Die 0/11 span speel 2 wedstryde waarvan hulle een gelykop speel en een verloor. Die 0/12 span speel een wedstryd teen die 0/13 B en hulle eindig gelykop. Die 0/13 span het een van hul 2 wedstryde gewen. Twee van die 0/13 dogters Michelle Smit en Friedelene Fetzer was deel van ‘n groep van 4 spelers wat verlede Saterdag by Rustenburg Hoërskool vir die NAVSFED-proewe gaan speel het. Die twee dogters is gekies om aan die finale proewe deel te neem.
Die krieket seuns het uitstekend gevaar in al hul liga wedstryde. Hulle het verlede Dinsdag teen Laerskool Warmbad gespeel. Met die aanvang van die wedstryd stuur Thaba Warmbad in om te kolf . Hulle haal Warmbad uit vir 61 lopies na 20 beurte. Thaba steek die telling verby na net 9 beurte en wen met 4 paaltjies. Die 0/11 span wen hulle wedstryd met ses paaltjies nadat hulle Warmbad ingestuur het om te gaan kolf. Warmbad teken 117 aan in die toegelate 25 beurte. Thabazimbi steek die telling verby met net 4 paaltjies terug in die paviljoen.
Met die 2de span wat goeie krieket speel het dit net so goed gegaan. Hulle wen die loot en stuur Warmbad in om te kolf. Hulle boul aanval is uitstekend en haal almal uit vir ‘n skamele 41 lopies. Thaba steek die telling verby met net 2 paaltjies terug in die paviljoen. Die 1ste span sit hulle goeie vertoning voort en wen ook hulle wedstryd. Hulle haal Warmbad uit vir 61 lopies in 20 beurte. Die span steek die telling verby in die 9de beurt met 6 spelers terug in die paviljoen. Hulle wen dan met 4 paaltjies. Baie geluk aan die spelers hoop dat die voorbereiding goed sal verloop met die komende wedstryde.
Vyf skaak leerlinge is uitgenooi na die proewe om die provinsiale spanne te bepaal wat in Desember aan die SA’s gaan deelneem. Die bestes van die skole in die Rustenburg-Brits distrik was uitgenooi en die kompetisie was baie straf. Leerders het in hulle verskillende ouderdomsgroepe deelgeneem oor 6 rondtes. Die uitslae sal in die komende week bekend gemaak word waarvan 25 spelers gekies sal word wat aan die verpligte oefenkampe uitgenooi sal word, en daarna sal die finale spanne gekies word. Die skool wens Scholtz le Roux 0/12, IGee Theron 0/12, Armand Venter 0/12, Lucius Potgieter 0/14 en Leandi Coetzee 0/14 alle sterkte toe en hoop dat hulle almal in die span opgeneem sal word.